GEORGE NUUS - ‘n Byeboer van hier wat gereeld tussen Mosselbaai en Plettenbergbaai rondry, het laat gistermiddag 2 Januarie ‘n nare voorval beleef.
Riaan Bosch was tussen die Thembalethu-brug en die Garden Route-winkelsentrum met sy Landrover op die N2 onderweg toe ‘n groep kwaaijongens glo sy voertuig met klippe bestook.
“Dit is nie die eerste keer wat so iets gebeur nie, maar gelukkig het hulle hierdie keer nie my voorruit getref nie,” het Bosch gesê. Hy het nie die saak by die polisie aangemeld nie, maar wil graag motoriste waarsku om op die uitkyk te wees vir jongelinge wat langs die N2 in groepe stap.
“Ry maar in die regterbaan,” is sy wenk aan motoriste. Bosch het gesê hy het gelukkig gesien wat kom en kon oorbeweeg na ‘n ander baan voordat sy voertuig skade bekom. “Ek het die jong spannetjie daar sien rondloop. Ek kan net 80km per uur ry want my Landy is al 50-jaar oud. Een mannetjie het sy arm teruggetrek en toe sien ek hier kom die klippe,” het Bosch gesê.
“Hierdie is nie onluste nie, dis stoutigheid. Dis kwaaijongens wat eenvoudig opportunisties is en vir mekaar wil wys hoe oulik hulle is.” Volgens Bosch het die klippe die tralies agter op sy Landrover getref.
“Laas was ek nie so gelukkig nie. Ek is ‘n tyd gelede in die Knysna-omgewing, naby Nekkies, met ‘n klip teen my bakkie se voorruit getref. Dit was groot skade,” het hy gesê. “Hulle besef nie hoe gevaarlik dit is nie. Dit kan iemand se lewe kos.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'