Terwyl inwoners en politieke verteenwoordigers van verskeie partye verslae toegekyk het, het Mercia Jordaan moed bymekaar geskraap om haar 71-jarige moeder, Elna Veldkornet uit die verwoestende brand te red, nadat sy haar ma hoor skreeu het in haar kamer.
Die brand het na bewering in Veldkornet se kamer ontstaan.
"Dis deur die Here se genade dat my ma betyds na my geroep het. Die hitte was so erg en die vlamme het al die plafon bereik toe ek deur die huis gehaas het om my ma uit te kry. Ek het nie nog aan myself gedink nie. My ma is sieklik en ek het geweet sy sou dit nie op haar eie kon maak nie. ‘n Gedeelte van haar hare het ook begin brand, maar ek kon dit gelukkig doodblits," vertel Jordaan.
Jordaan verneem dat as dit nie was vir ‘n paar dapper seuns nie, sou haar woning in die agterplaas, ook afgebrand het.
Sy vertel: "Was dit nie vir die seuns nie, wat hulself die Biker Boyz noem, sou ons ook vandag buite gesit het. My ma se huis is baie naby aan ons huis. Die seuns het op die dak gespring en die een kant van die dak konstant nat gegooi met water sodat dit nie ons huis kon bereik nie."
Die Knysna Brandweer is intussen ook na die huis ontbied.
Jordaan se man, Anthony Jordaan, sê dat die gretigheid van politieke kandidate om stemme te werf deur gebruik te maak van tragiese voorvalle, hom totaal en al ontsuur het. "Kan jy glo? Ek kan amper sê ál die kandidate van verskillende partye ... was hier toe die huis besig was om te brand. Almal het mooi woorde gespreek en gesê hulle gaan ons help. En kyk, vandag sit ons sonder elektrisiteit en my skoonma bly by haar seun, sonder klere en skoene. Ek sit en bekommer my oor my seun se skoolloopbaan. Hy moet tuiswerk doen, maar hier is geen elektrisiteit nie. Die laaste bietjie kos wat ons het in die yskas gaan vrot raak omdat ons nie krag het nie."
Hy sê verder dat ‘n munisipale beampte die gesin ingelig het, dat dit sowat twee weke sal neem alvorens die familie weer van elektrisiteit voorsien sal kan word. "Hulle was almal hier toe die huis gebrand het. Dit gaan my verstand te bowe hoe hulle niks vir ons kan doen nie. Dit wys net dat dit als net oor politiek gaan. Ons kan regtig nie twee weke wag nie," sê ‘n woedende Anthony. Hy vertel ook dat hy tydelik gewerk het en intussen sy skoonma se huis moes regmaak omdat die waarde van die huis reeds voor die brand begin val het. "Ek het maar met die bietjie geld wat ek verdien het, my skoonma se huis begin pleister.
Die dak is besig om in te gee en die vloer is vol barste. Ek kon nie vir die munisipaliteit wag nie. En nou word ons wéér blootgestel aan die risiko dat ons huis ook kan brand, want ons moet nou kerse gebruik totdat hulle eendag aan ons elektrisiteit sal voorsien," vertel Anthony. Hy doen ‘n beroep op alle kandidate om nie net voor die verkiesing gretig te wees om stemme te werf nie, maar dat hulle ook na verkiesingstyd na arm inwoners se wonings sal gaan om sodoende soortgelyke tragiese gebeurtenisse te verhoed.
Die oorsaak van die brand was teen druktyd nog nie bekend nie.
Die gesin wil graag die Knysna Brandweer bedank vir hul spoedige reaksie, die Biker Boyz vir hul hulp, asook die gemeente van die Ou Apostoliese Kerk vir hul ondersteuning en gebede, en elke familielid wie hul hand uitgereik het na die familie in hul tyd van nood. "Ons is regtig dankbaar vir diegene wat ons gehelp het. Vandag is my ma nog lewendig. Sy is nie erg beseer nie en het net rook ingekry. Ons kon haar verloor het in die brand, en dit nogal op Moedersdag. Baie dankie aan almal," sê ‘n dankbare Mercia.
Die enigste meubels wat die familie besit nadat ‘n Hornlee-huis op Sondag, 8 Mei aan die brand geslaan het. Die oorsaak van die brand was teen druktyd nog nie bekend nie.