Na die bakleiery moes Jonkerman na die provinsiale hospitaal geneem word waar hy behandeling ontvang het vir sy wonde. Hy het ook 'n tetanus-inspuiting ontvang vir bytwonde wat glo deur die sekuriteitsbeamptes toegedien is.
Volgens Jonkerman en Valentine was hulle omstreeks 12.30 by die sentrum om doeke vir hul baba te koop. Toe hulle verby 'n polisieman stap, wat ten tye van die voorval van diens af was en bekend is aan Jonkerman, het 'n woordewisseling glo ontstaan. Jonkerman vertel dat twee Allsound-sekuriteitsbeamptes wat op kontrakbasis by die sentrum werk, hulle gevra om die perseel te verlaat en hulle het toe saam met die polisieman en Jonkerman na sy motor toe gestap in Langstraat. Toe hulle Jonkerman se motor bereik, het die polisiebeampte glo probeer om vir Jonkerman 'n hou met sy kop te gee, maar dit was mis.
Die volgende oomblik skop en slaan die sekuriteitwagte vir Jonkerman met hul draagbare radios oor die kop totdat bloed by sy gesig afstroom. Hulle het hom ook glo aan sy been gebyt.'n Groot skare mense het intussen in die straat saamgedrom en het ontsteld geskree dat die beamptes moes ophou. 'n Motoris het in die middel van die straat gestop, uitgeklim en probeer om die struweling te stop, maar was onsuksesvol. Een van die toeskouers was Mike Hampton, webbladeienaar van LoveKnysna, wat foto's geneem het en 'n verslag oor wat hy gesien het aan Knysna-Plett Herald gestuur het.
Jonkerman vertel dat in 'n poging om homself te verdedig hy 'n moersleutel uit sy motor gehaal het en dit na die beamptes gegooi het. Hy het ook 'n mes uit sy kattebak gehaal "om hulle te verjaag".
Kort daarna het polisiebeamptes opgedaag en nog sekuriteitsbeamptes is ontbied om die situasie te ontlont. Paramedici het Jonkerman se wonde behandel en hy is hospitaal toe geneem om die bytwonde aan sy been te behandel.
Volgens Declan Nurse en Johan Kapp, bestuurders by Allsound Sekuriteit, het hul wagte absoluut korrek opgetree. Volgens hulle is Jonkerman 'n bekende krimineel wat twee dae tevore deur die betrokke polisiebeampte gearresteer is vir dwelmbesit. Hulle vermoed dat die argument tussen die polisiebeampte en Jonkerman juis daaroor gegaan het. Toe die polisiebeampte en Jonkerman gevra is om die perseel te verlaat en Jonkerman na sy motor begelei is, het Jonkerman glo met die sekuriteitswagte skoor gesoek en hul verbaal uitgelok. Volgens hulle was dit Jonkerman wat die eerste hou geslaan het en hulle moes hulself verweer.
"Wat sou jy gedoen het as iemand op jou afgestorm het met 'n mes? My wag het 'n trollie voor hom uitgehou om homself te beskerm, maar as dit ek was, sou ek hom geskiet het", het Kapp op Maandag, Augustus 4 prontuit gesê.
'n Gedeelte van die insident is opgeneem deur die sentrum se sekuriteitskameras. Ongelukkig is dit onmoontlik om die aanvanklike geveg by Jonkerman se motor op die opname te sien en dit is dus nie duidelik wie die eerste hou geslaan het nie. Dit is egter duidelik op die opname dat die wagte rustig terugkeer na die sentrum, voordat 'n bebloede Jonkerman skielik met 'n mes agter hulle verskyn en steekbewegings na een van die wagte maak.
'n Struweling volg waarin die sekuriteitswagte poog om die mes by Jonkerman af te neem, terwyl Valentine die wagte van agter slaan om hulle te keer, haar baba steeds in haar arms.
Volgens Hampton het nege polisiebeamptes op die toneel verskyn, maar geen arrestasies is gemaak nie. Die sekuriteitsbeamptes het 'n dag daarna 'n saak van aanranding teen Jonkerman aanhangig gemaak. Op sy beurt gaan Jonkerman ook 'n saak teen die sekuriteitswagte en die polisiebeamte maak. Volgens polisiewoordvoerder, Sersant Chris Spies, word daar verdere ondersoek gedoen oor die rol wat die polisiebeampte gespeel het.
In reaksie op Hampton se Facebook-bespreking van die insident het ene Garth Brock geskryf dat Jonkerman gekry het wat hy verdien, omdat hy glo 'n bekende Knysna-krieketspeler Irvin Godwyn Campher met 'n mes gesteek het wat tot gevolg gehad het dat Campher 'n long verloor het. Jonkerman en Valentine was baie verbaas toe hulle uitgevra is oor hierdie kwessie, maar Jonkerman het wel die voorval erken. Hy vertel dat dit jare gelede gebeur het en dat dit 'n argument was tussen twee vriende.
Hy sê dit is onwaar dat Campher net een long het. Die kwessie is intussen opgeklaar en die vriendskap is herstel. Ten tye van die koerant se ter perse gaan, kon Campher nog nie vir kommentaar opgespoor word nie. Anouk Edwards, eienaar van Woodmill Lane, is van mening dat die sekuriteitbeamptes die saak goed hanteer het en daardeur verseker het dat die sentrumbesoekers veilig is.

Hierdie bytmerke aan Gearsham Jonkerman se been is glo deur Allsound-sekuriteitswagte toegedien.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'