Mnr. Donald Kroon (36) het wonderbaarlik oorleef nadat sy Opel Corsa-bakkie verlede Vrydagmiddag verskeie kere op die N2-snelweg gerol het.
Kroon was onderweg na George vanaf Danabaai waar hy toerusting by ‘n swembad geïnstalleer het.
Ilse Schoonraad, redakteur van Oudtshoorn Courant het agter Kroon gery toe die ongeluk omstreeks 14:30 net buite Groot-Brakrivier plaasgevind het.
Kroon het aan haar gesê hy moes agter die wiel aan die slaap geraak het.
Hy kon daarin slaag om uit die wrak tot langs die bakkie te kruip en het gekla van erge pyn in sy regterarm. Hy is na die hospitaal vervoer.
Swembad toerusting was oor beide bane op die snelweg gestrooi en verkeer moes na enkelbaan herlei word.
In ‘n ander ongeluk Sondagmiddag is ‘n motorfietsryer van George in die Outeniquapas van sy fiets geslinger voordat dit uitgebrand het.
Die man was onderweg na George toe hy op ‘n draai gegly het. Die motorfiets het teen die muur gebots en aan die brand geslaan.
Die motorfietsryer het verskeie frakture opgedoen en is deur paramedici na die George-hospitaal vervoer.
In Plettenbergbaai is twee mense Sondag-oggend beseer toe hul voertuig naby The Crags gerol het. Die bestuurder het na bewering beheer oor die motor verloor waarna dit gerol het.
Daar is ‘n beroep op motoriste gedoen om stadiger te ry, veral in die nat weerstoestande wat die Suid-Kaap tans ervaar.

‘n Beseerde mnr. Donald Kroon (36) van George langs sy bakkie. Foto: Ilse Schoonraad
.jpg)
Paramedici van ER24 en Metro-nooddienste besig met die beseerde motorfietsryer nadat hy Sondagmiddag in die Outeniquapas van sy fiets geslinger is.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA