TUINROETE NUUS - 98 verdagtes is verlede naweek in die Tuinroete vir verskeie oortredings in hegtenis geneem ná 'n aantal misdaadvoorkomingsoperasies in dié gebied gehou is.
Spesiale aandag is geskenk aan dwelmhuise en drankwinkels, onwettige vuurwapens en die opsporing van gesoekte verdagtes.
In een van die voorvalle in George is 'n 51-jarige man Vrydagaand, 5 Maart, in Thembalethu in hegtenis geneem nadat Mandrax-tablette in sy besit gevind is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is vier sjebiens ook toegemaak en 270 liter drank is by 'n onwettige perseel in Knysna gekonfiskeer.
Verder het die span 11 verdagtes wat gesoek was in verband met ernstige en gewelddadige misdade, ook vasgetrek.
In 'n onverwante voorval is drie verdagtes in Knysna in hegtenis neem ná gesteelde eiendom ter waarde van meer as R40 000 in hul besit gevind is.
Sowat 270 liter onwettige drank is oor die naweek gekonfiskeer.
Verder is juweliersware, skoene, klere, 'n skootrekenaar, selfone en 'n onbekende bedrag kontant tydens 'n soektog by 'n huis in Kubostraat, Wit Lokasie, gevind.
"Die items is vroeër tydens 'n inbraak in Buffelsbaai en Costa Sarda in Knysna gesteel," sê Spies.
Al die bogenoemde verdagtes staan tereg op aanklagte van huisbraak en diefstal en die besit van gesteelde eiendom.
Gesteelde items wat gekonfiskeer is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'