LANDBOU NUUS - Alexander Gibson (32) van Ceres in die Witzenberg Vallei is gisteraand, 19 Mei, tydens ‘n glansgeleentheid in die Paarl as die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar aangewys.
Uniondalers het styf duim vasgehou vir hul finalis in die kompetisie, Derec Giles van Dwarsfontein, wat onder die topvyf geëindig het.
Giles het vanoggend vanuit die Boland laat weet dat dit vir hom ‘n geweldige eer was om aan die kompetisie deel te neem.
“Die beoordelaars het vir my en my vrou gesê ons is ‘n groot inspirasie. Ek is steeds bewoë. ‘n Mens kom nie van waar ons was, tot waar ons nou is, sonder spesifieke mense wat die Here op jou pad sit nie,” het Giles gesê.
Volgens Giles reën dit tans kliphard in die Kaap en besoek hy en sy vrou eers ‘n paar Kaapse hondetelers alvorens hul terugkeer na die Suid-Kaap. Giles teel met honde en boer met skape, kalwers en volstruise.
Wes-Kaap se wenner
Gibson, wat ‘n B.Agric-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, boer die afgelope 11 jaar op Doornkraal Agri met 300 ha appels en 110 ha pere.
Hy was een van vyf deelnemers wat vanjaar om die titel as beste jongboer in die Wes-Kaap meegeding het en sal die Wes-Kaap later vanjaar by die nasionale Agri SA Toyota SA Jongboer van die Jaar kompetisie verteenwoordig.
“Ek glo as jy vanaand [gisteraand] hier sit as ‘n deelnemer in die Wes-Kaap, in die Suid-Afrikaanse omgewing en demografie van landbou, dan het jy in elk geval klaar gewen,” het hy tydens sy aankondiging as wenner gesê.
PF Theron, voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, het gesê die paneel beoordelaars het weer die jaar ‘n baie moeilike taak gehad om ‘n wenner uit fenomenale deelnemers te kies.
“Die kompetisie wys elke jaar vir ons dat die landbou se toekoms in goeie hande is, maar dit strek verder as net voedselsekerheid. Die bydrae wat die jongboere in hulle gemeenskappe maak en die waarde wat hulle toevoeg, is wat van ons jongboere ‘n bate vir die land maak,” sê hy.
Die ander deelnemers was Derec Giles van Uniondale, Jo-Andra Cloete Greegory van Joostenbergvlakte, Floris Steenkamp van Ceres en Kleinjan Teubes van Vredendal.
Derec Giles van Uniondale en sy vrou, Charmaine, met sy sertifikaat tydens ‘n glansgeleentheid gisteraand in die Paarl. Giles was een van vyf finaliste vir die kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'