OPINIE - As klein dogtertjie het ek dikwels langs my pa op sy bed met my kop teen sy bors gelê. Dit was gewoonlik saans voor ek gaan slaap het, en hy het land en sand met my gesels.
Ek onthou vandag nog sy hartklop. Ek en hy kon oor enigiets gesels en die sagte, ritmiese boem-boem, boem-boem teen my oor was gerusstellend en vertroostend.
Sy hartklop het altyd dieselfde, ontspanne ritme gehad. In my kinderbrein was alle pa's so. Pa's by wie jy as kind op 'n bed kon lê en veilig wees.
As kind het ek ook gereeld met my kaal voete teen die houtrakke in my pa se klerekas uitgeklim. Ek was klein en altyd nuuskierig oor spesifiek die boonste laai van die kas. Regs het sy klere gehang; sy hemde, broeke en 'n paar dasse. As ek daaraan terugdink, onthou ek nog die reuk van sy kas: soet en effens houtagtig.
Die boonste laai was vol kleingeld wat los rondgelê het. My pa het nooit 'n beursie gehad nie. Hy het altyd voor die kas gestaan en die kleingeld met sy wysvinger uitgetel voordat hy in Elephantweg in Monumentpark sou opstap na die 8 Till Late-kafee om die oggendkoerant te koop. Daar was altyd 'n paar bruin sente, R1- en R2-munte en, as ek gelukkig was, 'n R5.
Hy het nooit omgegee as ek soggens voor skool die paar houtrakke uitgeklim het om vir myself snoepiegeld te vat nie.
Om een of ander rede het ek, sonder dat hy ooit nodig gehad het om dit te sê, geweet om nie sy 'groot' geld te vat nie. Soms was daar note in die laai, maar ek het nie daaraan geraak nie.
Die inhoud was meestal dieselfde. Behalwe een keer. Ek was 12 jaar oud toe ek my pa se laai langs sy bedkassie heeltemal uitgetrek het en onder in die laai 'n rewolwer gesien het. Terugskouend was dit vir my duidelik my pa se wegsteekplek vir die vuurwapen.
Dit het my groot laat skrik, want ek het nie geweet my pa besit 'n vuurwapen nie. Ek was te bang om daaraan te raak en het die laai dadelik weer toegestoot. Maar nie almal is so gelukkig om 'n goeie pa te hê nie.
Mossel Bay Advertiser het onlangs berig oor 'n 59-jarige stiefpa wat in die plaaslike landdroshof verskyn het op aanklagte wat verband hou met die seksuele aanranding van 'n kind. Hy is op borgtog vrygelaat.
Die klaer is sy voormalige stiefseun, wat nou 35 jaar oud is. Die beweerde dade het glo plaasgevind toe die klaer 12 jaar oud was, tussen 1997 en 2003.
In Julie vanjaar is ook in die nasionale media berig oor 'n pa van Malmesbury wat tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis is nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van sy drie biologiese dogters.
Die drie dogters, wat ten tyde van die vonnis 18, 22 en 23 jaar oud was, het getuig dat hy hulle verskeie kere verkrag het toe hulle tussen vier en twaalf jaar oud was. Hulle sê hy het hulle geleer dat dít is wat liefde is.
Een van sy dogters het gesê: "My pa sou sê ek moet met hom cuddle. Ek sou sy heartbeat voel vinniger gaan. Dan weet ek, oukei, cool, ek moet my brein afskakel, andersins gaan ek suffer. En dan begin dit."
Nou die aand het ek 'n droom gehad. Ek trek die laai langs my pa se bedkassie oop. Daar lê die rewolwer. Ek tel dit aan die handgreep op. Dit is swaarder as wat ek verwag het.
Albei my hande vou om die greep. My hande bewe terwyl ek dit stadig oplig. 'n Man kom die vertrek binne. Ek draai in sy rigting en skree: "Hei!"
Hy skrik en skuifel versigtig in my rigting, sy hande voor sy lyf uitgestrek. Ek kan in sy oë sien hy dink ek bluf. Ek wag totdat hy omtrent 'n meter voor my staan. Dan fluister ek: "Kyk vir my."
Dit is die gesig van die Malmesbury-pa. Dan flits die gesigte van al die mans oor wie ek deur die jare berig het - mans wat kinders seksueel aangerand of verkrag het - voor my oë verby. Jare se hofverslaggewing oor sake soos dié beteken baie gesigte.
Die laaste gesig wat voor my oë verbyflits voor ek wakker word, is iemand wat aan my bekend is. Dit is nie my pa nie. My pa was net liefde en die teenoorgestelde van die Malmesbury-pa.
Verbeel ek my, of hoor ek ook die man voor my se hartklop vinniger gaan?
In my droom trek ek die sneller.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’