OPINIE - Mossel Bay Advertiser berig gereeld oor moord. Soms word daar oor 'n naweek meer as een moord gepleeg.
Ons joernaliste besoek gereeld familielede van slagoffers. Dikwels het die slagoffers hulle moordenaars geken.
Die afgelope week het die 39-jarige Sonwabile Mbambo in die Mosselbaai-landdroshof verskyn nadat die liggaam van die 62-jarige Heleen Annandale, 'n ma van drie, op 1 September in haar woonstel in Crookstraat gevind is - met 'n wond aan haar nek.
Dit is belangrik om te onthou dat Mbambo nog slegs 'n verdagte in die moordsaak is, en nog nie skuldig bevind is nie.
'n Week nadat Annandale vermoor is, is die liggaam van die 20-jarige Lwamkelo Bukani op 8 September met verskeie steekwonde in Lonwabostraat, KwaNonqaba, gevind.
Twee mans is intussen vir sy moord in hegtenis geneem.
Die lys van slagoffers van 2025 is reeds lank, en die jaar is nog nie verby nie.
Hoe moet dit voel sekondes nadat jy weet jy vermoor gaan word? In baie gevalle kom die dood seker ook as 'n verrassing.
Vergifnis
Die vrou van die vermoorde Amerikaanse politieke aktivis, Charlie Kirk, het tydens 'n gedenkdiens wat die afgelope week vir hom in Amerika gehou is, gesê sy vergewe sy moordenaar.
Kirk is op 10 September by die Utah Valley Universiteit in Orem in 'n sluipmoord-voorval in die nek geskiet.
Verskeie sosiale-mediakommentare het op sy weduwee, Erika, se openbare uitspraak gevolg. Baie mense het gesê sy verdien 'n Oscar vir haar toneelspel.
Hoe dit ook al sy, dit moet baie moed vat om twee weke na jou man se dood woorde van vergifnis uit te spreek. Of Erika reeds werklik vergifnis teenoor haar man se moordenaar het, sal net sy weet.
Wat ek weet is daar lê steeds 'n lang pad van genesing vir haar voor. Dieselfde lang pad as wat vir Annandale se familie en Bukani s'n voorlê.
My ouers is 'n paar jaar gelede in hulle huis in Monumentpark in Pretoria deur drie mans met pangas aangeval.
Die drie het oor 'n palissade geklim en die sekuriteitshek voor die voordeur met een van die pangas uit die baksteenmuur geslaan, en heeltemal afgeruk.
Gewapen met net 'n kussing het my pa, Arend Posthuma, die aanvallers tegemoet gegaan. Dit was die enigste wapen wat hy in die hande kon kry sekondes voordat hulle op hom toegesak het.
Die man wat my pa herhaaldelik met 'n panga gekap het, onder meer oor sy kop, het na 'n paar houe en toe my pa al op die sitkamermat lê, opgehou en met die panga bo sy kop bly staan. Hy het my pa beveel om stil te lê, "or I will kill you!"
My pa het opgehou terugveg, en die aanvaller was hom genadig.
My pa het die aanval oorleef, maar dit het hom verander. Hy het geweldige woede teenoor sy aanvallers ontwikkel en het kort na die voorval weer sy vuurwapenlisensie hernu, asook 'n vuurwapen aangeskaf.
Ek onthou hoe hy dikwels drie vingers teen die palm van sy regterhand sou druk en met sy wysvinger en duim beduie hoe hy volgende keer op die aanvallers sou skiet.
Hy is intussen oorlede, maar ek het al baie keer gedink aan sy ervaring en hoe anders daardie aand vir ons familie kon geëindig het, soos wat baie families met wie ons by die Advertiser moet gesels se lewens vir altyd verander is.
Haat soos roes
Onlangs gesels ek met 'n forensiese pataloog wat al meer as 6 000 liggame in haar leeftyd moes ondersoek. Al die liggame was slagoffers aan die hande van moordenaars.
Na al die jare se ervaring is dit steeds kindermishandeling wat haar die hardste tref. Dit en boendoehofgevalle.
"Dit is verskriklik om te sien hoe ontsaglik wreed een mens teenoor 'n ander kan wees. Om te sien wat mense aan mekaar kan doen. Ek sal net nooit daaraan gewoond kan raak nie," het die pataloog gesê.
In die boek Ek glo deur Gerhard Beukes sê die skrywer haat is voortdurend die direkte oorsaak van die mens se behoefte om mekaar uit te roei en te vernietig.
Ook dat selfgeldingsdrang nooit die oplossing vir enige vraagstuk gebring het nie, net so min as wat 'n oorwinning deur geweld ooit die enigste vrede wat die moeite werd is kan bewerkstellig.
Families van slagoffers wat vermoor is wroeg deur die ure en dae om vrede in hulle harte te probeer kry. Want sonder vrede neem bitterheid oor.
As slagoffers se familie na vrede en vergifnis strewe, waarna streef die moordenaars?
Haat teenoor 'n medemens is soos roes; dit vernietig stil en onopsigtelik 'n hart wat naderhand in yster verander.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’