KNYSNA NUUS - Haar lewe het vol belofte voor haar gelê. Dit was haar verjaarsdag, 'n dag van vreugde en viering.
Maar vir die 19-jarige Morisha "Pienkie" Sauers se familie het dit in 'n dag van rou verander toe sy vroegmiddag buite haar huis vermoor is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordevoerder Sersant Chris Spies is die polisie omstreeks 15:10 na die Knysna Provinsiale Hospitaal ontbied. Met hul aankoms is hulle na die liggaam van die jong vrou verwys, wat met 'n steekwond in die bors gevind is. Sy is deur mediese personeel dood verklaar.
'n 19-jarige vroulike verdagte is dieselfde dag in hegtenis geneem en bly in aanhouding. Sy sou na verwagting Dinsdag 16 September in die Knysna-landdroshof vir 'n formele borgtogaansoek verskyn het. "Geen ander verdagte word tans met die moord verbind nie," het Spies gesê.
Die voorval het in Ketanga, 'n woonbuurt in Hornlee, plaasgevind. Volgens Sauers se ouma, Susanna Bosman, was Morisha besig om kos te maak toe sy deur iemand buite geroep is.
Haar kêrel het glo gesê iemand soek haar buite. Kort daarna is sy aangeval en twee keer gesteek - een keer naby haar hart en een keer in haar sy.
Bosman sê die familie is gebroke en verstaan steeds nie waarom Morisha vermoor is nie. "Sy was nie 'n roker of drinker nie, en ook nie iemand wat moeilikheid gesoek het nie," sê sy. "Daar is soveel stories oor wat gebeur het, maar ons glo dit was beplan."
'n Gemeenskapslid het 'n ambulans ontbied, maar dit was reeds te laat. Bosman vertel hoe sy na die hospitaal gehaas het, waar dokters haar meegedeel het dat Morisha gesterf het.
"Ek sal nooit daardie prentjie van haar op die hospitaalbed vergeet nie. Sy het net een sandaal aangehad, met bloed op haar rok."
Morisha, wat bekend was vir haar liefde vir musiek en dans, sal Saterdag te ruste gelê word. Die tyd en plek van die begrafnis was teen druktyd nog nie bevestig nie.
Morisha "Pienkie" Sauers, Facebook
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’