KNYSNA NUUS - Terwyl die wanpersepsie steeds bestaan dat netbal uitsluitlik vir vroue bedoel is, bewys Knysna se Henno Beukes dat mans ook op nasionale vlak in dié sport kan presteer. Ná afloop van die nasionale mansnetbalkampioenskappe, wat van 4 tot 10 Oktober in Gqeberha plaasgevind het, is hy in die Suid-Afrikaanse o. 23-netbaloefengroep opgeneem.
Beukes, wat vir Die Omgee Rehab in die Eden-streek speel, sê hy het op 16-jarige ouderdom ernstig met netbal begin. "Namate ek meer ervaring opgedoen het, het ek besef dat ek werklik 'n toekoms in die sport kan hê. Dit het my gemotiveer om harder te oefen, my vaardighede te ontwikkel en myself op 'n hoër vlak te probeer bewys," sê hy.
Wanpersepsie oor mansnetbal
Beukes, wat ook 'n gekwalifiseerde netbalskeidsregter is, is uitgesproke oor die diepgewortelde wanpersepsie dat netbal uitsluitlik vir vroue bedoel is. Hy meen dié siening moet dringend verander. "Sport behoort nie deur geslag bepaal te word nie, maar deur belangstelling, talent en toewyding. Die idee dat netbal 'n vrouesport is, hou te veel seuns terug. Baie van hulle kry nooit eens die kans om die spel regtig te ervaar nie, want die stereotipe sit al van skoolvlak af vas," sê hy.
Met sy eie insluiting in die Suid-Afrikaanse o. 23-oefengroep hoop hy om 'n sigbare voorbeeld te stel. "As een jong man sien dat ek hier is en dat dit moontlik is, en daardeur self die sport begin speel, het dit alreeds iets bereik. Ek wil help bewys dat netbal 'n plek vir almal het; mans én vroue."
Beukes glo die verandering moet by die wortels begin. Hy stel voor dat skole aktief aangemoedig word om seunspanne te stig en te ondersteun, eerder as om netbal net as 'n meisiesport te behandel. "As seuns van jongs af blootstelling kry en sien dat daar 'n pad vorentoe is, sal meer van hulle die sport kies. Suksesvolle manlike spelers moet ook meer sigbaar as rolmodelle gebruik word. Jong seuns moet kan sien dat dit nie net moontlik is nie, maar dat daar erkenning en geleenthede is as jy hard werk."
Mansnetbal verdien meer erkenning
Hoewel Beukes positief is oor die ontwikkeling van mansnetbal in Suid-Afrika, meen hy dat die sport steeds nie die erkenning kry wat dit verdien nie. Meer media-aandag, borgskappe, finansiële ondersteuning en ontwikkelingsgeleenthede is volgens hom nodig om die sport verder te laat groei.
Van klub tot nasionale vlak
Beukes sê sy netbalreis het by die Knysna Jaguars begin, waar Lynn Kayster sy eerste afrigter was. Klubnetbal het die grondslag vir sy ontwikkeling gelê. Streeknetbal het hom daarna die geleentheid gebied om teen sterker teenstanders mee te ding en sy vermoëns op 'n hoër vlak te toets.
Hy beskou sy insluiting in die Suid-Afrikaanse o. 23-netbaloefengroep as 'n belangrike deurbraak in sy loopbaan. "Om teen van die beste spelers in die land te speel, het my selfvertroue versterk en my laat besef dat ek steeds hoër doelwitte kan nastreef."
Roetine en sterk punte
Beukes speel as doelskieter, 'n posisie waarin akkurate skietwerk, goeie voetwerk, balbeheer en die vermoë om verdedigers se bewegings te lees noodsaaklik is. "Ek werk voortdurend aan my fiksheid, spoed, voetwerk en besluitneming sodat ek op die hoogste vlak kan aanhou presteer. Dit is veral in druksituasies waar ek voel ek kan 'n aanwins vir enige span wees. Wat my algehele ontwikkeling as speler betref, moet ek my spanmaats en afrigters oor die jare krediet gee, want ek glo geen speler bereik sy doelwitte alleen nie. Dit sal ek nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, " sê hy.
'n Droom om sy land te verteenwoordig
Beukes se uiteindelike droom is om op die hoogste moontlike vlak in mansnetbal te speel en Suid-Afrika met trots te verteenwoordig. Hy wil nie net as speler aanhou ontwikkel nie, maar ook 'n positiewe bydrae tot die groei van die sport lewer.
Op die vraag watter raad hy aan 'n jonger weergawe van homself sou gee wat pas met netbal begin het, antwoord hy: "Ek sou vir my jonger self sê om in homself te glo en nooit toe te laat dat ander mense se opinies sy drome beperk nie. Ek sou hom ook aanmoedig om geduldig te wees, hard te werk en elke geleentheid aan te gryp om te leer. Daar sal tye wees wanneer dinge moeilik raak en wanneer mense nie jou potensiaal raaksien nie, maar dit beteken nie dat jy moet opgee nie. Die belangrikste is om getrou aan jouself te bly, nederig te wees en te onthou dat sukses nie oornag gebeur nie," sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’