KNYSNA NUUS - Vir afrigter Eurecian Daniels is die wen van drie trofeë in o. 15-, o. 19-tienman- en senior mans sewesrugby veel meer as net 'n prestasie op die rugbyveld.
Dit weerspieël harde werk, opoffering, dissipline en geloof in die proses.
Daniels sê dit is 'n groot voorreg om op verskillende vlakke sukses te behaal, veral wanneer spelers saamwerk en in mekaar glo.
Volgens hom verskil sy afrigtingsbenadering na gelang van die spelers se ouderdom en die formaat waarin hulle speel. "Met die o. 15-span fokus ek op basiese vaardighede, ontwikkeling, selfvertroue en 'n liefde vir rugby. Die doel is om 'n sterk fondament te lê en die spelers te help om die spel beter te verstaan.
"By die o. 19-tienmanspan val die klem op wedstrydplanne, besluitneming onder druk, fisieke gereedheid en die vermoë om as 'n eenheid te funksioneer. Organisasie en die benutting van geleenthede is veral belangrik in tienmanrugby.
"Die senior mans sewesspan vereis weer spoed, fiksheid, ondersteuning, balbesit en vinnige oorgange tussen aanval en verdediging. Omdat dié formaat min ruimte vir foute laat, moet die spelers gedissiplineerd wees en vinnig kan aanpas," verduidelik hy.
Die o. 19-tienmanspan se dramatiese oorwinning in die doodsnikke is een van die oomblikke wat hom die meeste bybly. Die span het die eindstryd danksy 'n laat drie deur sy kaptein, Keagan Bennie, gewen.
Daniels sonder ook die prestasie van die SWD- o. 15-span uit, wat die Hollywood Foundation Iqhawe-week 2026 op nasionale vlak gewen het.
Bou voort op jong spelers se potensiaal
Daniels wil voortbou op dié sukses deur steeds aan basiese vaardighede, fiksheid, wedstrydintelligensie, dissipline en spanwerk te skaaf. Hy wil ook graag hê dat jong spelers die geleentheid moet kry om hulself op hoër vlakke te bewys.
"Trofeë is 'n bonus, maar die ontwikkeling van 'n speler as mens is vir my net so belangrik," sê hy.
Daniels gee God die eerste plek in sy lewe en afrigting. Hy bedank ook die spelers, sy medeafrigters, bestuur, ondersteuners en almal wat deel van sy reis is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’