VELDSKIET NUUS - Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se laaste ghongskietdag van die jaar het op Saterdag 18 November op De Rust plaasgevind.
Die gasvrye Henry en Martie van der Westhuizen het weer eens die plaashek van Aangenaam oopgemaak om almal hartlik te verwelkom. Marko Marais van Wildman George het ook aangesluit om die skuts te ondersteun.
‘n Totaal van 120 deelnemers het ingeskryf en het in spanne van vier geskiet.
Baanoffisiere het al Donderdag die Karooson aangedurf om bane op te stel. Ses bane is opgestel en die skietvernuf is behoorlik getoets met wisselende ghongafstande tussen 192 m en 390 m. Skuts was tydgebonde en moes tref uit verskeie skietposisies. Dit het behoorlik hulle vaardighede op die proef gestel en ook gewys watter skut die beste vertroud is met sy/haar geweer.
Dit was ‘n warm dag, maar nie die stof of die sweet kon die opwinding of die entoesiasme demp nie. Streng veiligheid is by al die bane toegepas. Hoewel dit ‘n baie mededingende kompetisie is, het alles in ‘n goeie gees afgeloop.
Die wenspanne is vereer met medaljes, sertifikate en koopbewyse. Die afwagting was groot vir die gelukstrekking wat selfs ‘n meevallertjie vir dié kon beteken wat nie die beste op die baan gevaar het nie.
Die wenspan, Die Mafia.
Uitslae
Die wenspanne vir die dag was:
- Die Mafia (Johan Fourie, Niaan Fourie, Christo Delport en Hein de Swardt)
- Hou ons dop (Martiens Bekker, Hugo Moolman, André Barnard en Renier van Greunen)
- Team AHS (Raynor Becker, Johan Delport, Danie Barnard en Deon van Tonder)
Hierdie dag was ‘n reusesukses en die harde werk agter die skerms en opofferinge is nie mis gekyk nie. SJB bedank almal wat ingespring het om te help.
Hulle nooi enige belangstellendes uit om die kantoor te kontak by 044 695 2319 of die webwerf te besoek by www.suidkaapjagters.co.za vir navrae van die dag of om uit te vind wat word alles beplan vir 2024.
Team AHS was derde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’