KNYSNA NEWS - Dit was 'n geval van dubbele trane vir Knysna Cavaliers-krieketklub se mans- en dames A-spanne wat die afgelope naweek hul SWD T20-eindstryde teen hul eweknieë van Pacaltsdorp verloor het.
Die dames se lot is Sondagoggend bepaal en hoewel hulle met 73 lopies verloor het, was dit 'n reusemylpaal vir die span om net in die eindstryd te speel.
Pacaltsdorp se kolfbeurt het soos die bloutrein begin - haastig om by sy bestemming uit te kom.
Die span van George was goed op koers om minstens 200 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte te moker met die flitsende kolf van Julia Hoal (67) en Mochelle May (48) aan die voorpunt.
Teen die tiende boulbeurt het Pacs alreeds meer as 100 lopies opgestapel.
Dit was veral Hoal wat belofte getoon het om 'n honderdtal aan te teken - totdat sy deur die slim boulwerk van Nickey Jegels uitgevang is.
Hoal se beurt het 'n allemintige 11 grenshoue ingesluit.
Nadat May weens 'n misverstand uitgehardloop is, het Pacs se kolfbeurt gesukkel om weer momentum op te bou.
Suinige boulwerk deur Jegels (2/14) en Nadia Petersen (1/20) was grotendeels verantwoordelik dat Cavaliers die bloutrein se spoed aansienlik kon verminder en Pacs het uiteindelik met 155/5 geëindig - steeds 'n uiters kompeterende telling in 'n eindstryd.
Vir Cavaliers was dit van bal een af 'n opdraande stryd, en dit was slegs Izel Cilliers wat met haar sprankelende 37 lopies van 41 balle weerstand gebied het.
Izel Cilliers van Cavaliers het 'n paar goeie houe gespeel.
Die res van haar kolfmaats is almal onder 10 lopies uitgeboender, behalwe vir Cliche Jantjies wat onoorwonne was met 13 lopies.
Alhoewel die skrif vroeg reeds een die muur was, het Cavaliers al 20 hul boulbeurte benut en 82 lopies vir die verlies van agt paaltjies behaal.
Vir Pacaltsdorp was Monique Booysen (4/10) en Mochelle May (4/10) die skuldige boulers wat alle lewe uit Cavaliers gewurg het.
Cheyenne de Villiers, kaptein van Pacaltsdorp, was dit eens dat beide spanne goeie krieket opgedis het:
"Die wedstryd is in goeie sportman-gees gespeel. Ons span het regtig baie potensiaal en ek dink ons gaan nog groter hoogtes bereik met ons huidge peil," het sy gesê.
Manseindstryd
Sondagmiddag skuins na 14:00 het Pacs die loot gewen en besluit om eerste te kolf in hul eindstryd teen Cavaliers. Die manne van Knysna het met gereelde paaltjies gesorg dat Pacs telkens van voor af 'n fondasie moes bou vanwaar hulle die lopietempo kon versnel. Slegs Anoxolo Khitshini (25), Liyabona Malife (25) en Charl Marais (24) het noemenswaardige tellings aangeteken.
Dit was 'n kollektiewe poging deur Cavaliers se boulers om Pacs in 19.4 boulbeurte vir slegs 138 lopies almal uit te knikker, maar Francois Bonthuys 4/25) moet krediet kry vir die manier waarop hy van die stertkant van die kolflys ontslae geraak het.
Hy is ewe indrukwekkend bygestaan deur Stefan May (4/15) wat gelyk het of hy met elke bal 'n paaltjie kon neem.
JP Ellis het Cavaliers se kolfbeurt op 'n stywe drafstap begin toe hy drie grenshoue gemoker het.
Ellis is bekend vir sy vernietigende kolfwerk en Pacs het gejuig toe hy met sy telling op 15 lopies op die grens uitgevang is. Voor dit is sy ewe berugte aanvangsmaat, Mesuli Vuba, ook goedkoop vir vier lopies uitgehaal.
Na die kragspel van ses boulbeurte was daar alreeds 40 lopies op die telbord - 'n redelike telling.
Die eerste teken van drama het in die 7de boulbeurt kop uitgesteek toe Hayden Sweet 'n trekhou speel wat deur die paaltjiewagter gevang is. Die skeidsregter het egter beslis dat die bal van sy arm afgekom het - dus nie uit nie.
In die negende boulbeurt kry Mihle Dingiswayo 'n nuwe lewe toe 'n vangkans verbrou word, en as beloning straf hy dieselfde bouler met drie agtereenvolgende grenshoue.
Cavaliers kon 'n stewige 18 lopies in die 10de boulbeurt aanteken en het teen daardie stadium 74 lopies op die telbord gehad. Hulle het nou slegs 65 lopies van die oorblywende 10 beurte nodig gehad en oorwinning was beslis binne sig.
Maar dinge het begin skeefloop toe Dingiswayo in die 14de boulbeurt sy paaltjie weggee met 'n waaghalsige scoop shot, terwyl hy net die kolfbeurt moes roteer. Die volgende bal het nóg 'n paaltjie laat kantel.
Mihle Dingiswayo van Cavaliers (regs) moes laat wiel om betyds sy kolfkampie te haal.
Pacs het amper 'n driekuns behaal, maar Maurice White het die druk verlig deur die volgende bal vir ses te moker. Met ses beurte oor, het Cavaliers nog 34 lopies van 36 balle nodig gehad vir 'n oorwinning.
Die spanning het egter toegeneem toe Hayden Sweet skoon geboul is met Cavaliers se telling op 105/6. White het begin lopies aanteken ná slordige veldwerk, en sy vennootskap met Bonthuys het begin blom.
Teen die 17de boulbeurt het Cavaliers slegs 19 lopies van 18 balle nodig gehad en elke grenshou was nou goud werd.
Pacs se kaptein, Elih Thorne, het egter teruggeveg met drie leë balle na mekaar, voordat White die vierde bal vir 'n grenshou gekasty het om die druk effens te verlig.
Bonthuys het egter 'n fout gemaak deur die voorlaaste bal van die 18de boulbeurt met rus te laat in die hoop dat die skeidsregter dit as 'n wydloper sou beskou - dit was nie.
Met net agt lopies nodig van die laaste ses balle, het Pacs 'n draaibouer ingebring vir die laaste boulbeurt.
Die eerste bal was 'n wydloper, maar met die volgende bal is White, Cavaliers se laaste hoop, vir 23 lopies uitgehardloop toe hy wou draai vir die tweede lopie om weer aan die beurt te wees.
Pacs se toeskouers kon skaars hul opgewondenheid beteul en het luidkeels hul span aangemoedig.
Cavaliers het toe nog ses lopies van vier balle nodig gehad. Justin Meyer is amper gestonk van die volgende aflewering, maar, meer belangrik, is geen lopie is aangeteken nie.
Vanaf die oorblywende balle kon Cavaliers slegs drie enkelopies aanteken wat aan Pacaltsdorp United 'n oorwining van drie lopies besorg het.
Hierdie sege was Pacaltsdorp se derde agtereenvolgende SWD T20- oorwinning in 'n eindstryd.
Hul kaptein Elih Thorne, het Cavaliers na die wedstryd geprys en gesê dat hulle waardige teenstanders was.
"Julle het tot die bitter einde geveg en die resultaat kon enige kant toe gegaan het. Ook groot waardering vir my boys wat hierdie een vir ons deurgetrek het."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’