KNYSNA NUUS - Hoërskool Knysna en Concordia Primêr was vanjaar die trotse gasheerskole van die Sanlam WOW-spelfees se kringkompetisie, waar 341 leerders van verskeie skole hul taalvernuf in die speltoets en "Spelling Bee"-afdeling ten toon gestel het.
Hoërskool Knysna het ses hoërskole verwelkom wat Kring 4 van die Eden- en Sentraal-Karoo Onderwysdistrik verteenwoordig het, terwyl Concordia Primêr as gasheer vir elf laerskole uit Knysna en die omliggende gebied opgetree het.
Leerders moet deur die jaar drie vlakke suksesvol voltooi - naamlik kring-, distrik- en provinsiale kompetisies - om vir die nasionale eindronde, beter bekend as die galageleentheid, te kwalifiseer.
Die kompetisie het in 'n gees van entoesiasme, gesonde mededinging en 'n liefde vir Afrikaans plaasgevind. Leerders het hul onderskeie skole met trots verteenwoordig en hul beste gelewer in die hoop om na die volgende ronde deur te dring.
Concordia Primêr het al die deelnemers gelukgewens met hul uitstekende prestasies en spesiale gelukwense oorgedra aan die leerders wat vir die volgende ronde gekwalifiseer het.
Die twee plaaslike gasheerskole het ook hul waardering uitgespreek teenoor die deelnemende skole, opvoeders, beoordelaars, beamptes, ouers en ondersteuners wie se samewerking en betrokkenheid bygedra het tot die sukses van die dag.
Hulle sê dit was 'n voorreg om die kringkompetisie aan te bied en deelnemers van regoor die streek te verwelkom. Die geleentheid het nie net taalvaardigheid bevorder nie, maar ook uitnemendheid, deursettingsvermoë en 'n passie vir leer gevier.
Die Sanlam WOW-spelfees bly een van die belangrikste platforms waar jong leerders hul taalvaardighede kan ontwikkel en selfvertroue kan bou, terwyl hulle meeding teen van die beste spellers in die streek.
Die nasionale eindronde vind op 3 Oktober by die Universiteit Stellenbosch plaas.
Die Sanlam WOW-spelfees vorm deel van die Woorde Open Wêrelde (WOW)-inisiatief, wat daarop gemik is om leerders aan te moedig om trots op hul taal te wees en hul kommunikasievaardighede verder te ontwikkel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’