Die regering het nou ook ‘n liggaam geskep waar verbruikers klagtes kan indien. Vanaf 1 April kan die oortreding van die wet ondernemings se sak erg ruk.
Die doel van die wet is juis om omvattende beskerming aan kliënte en verbruikers te bied teen ‘n verskeidenheid kwessies rakende hul transaksies met verskaffers. Meeste klagtes van verbruikers is verkeerde kleingeld by winkels, kasregisters wat nie ooreenstem met ‘n prys op die rak nie, konsultante wat gedurig skakel om goedere te verkoop, supermarkte wat spesiale aanbiedinge adverteer en dan is dit uit voorraad, misleidende advertensies, kontrakte wat outomaties hernu word sonder jou toestemming ensovoorts.
Wet verskaf beskerming aan verbruiker
Die wet verskaf beskerming teen byvoorbeeld minderwaardige produkte of dienste en enige onbillike besigheidspraktyke van besighede wat goedere en dienste bemark en verkoop.Dit sluit in beskerming teen swak diens, die omruil van goedere, ongewenste bemarkingpraktyke ensovoorts. ‘n Verskaffer mag nie ‘n verbruiker vra om afstand te doen van sy/haar regte, aanvaarding van enige verpligtinge, of afstand van enige aanspreeklikheid van die verskaffer in terme van onbillikheid, onregverdigheid of onredelikheid tot die verbruiker nie.
Besighede neem kennis
Die Wet vereis dat besighede moet seker maak dat hul interaksie en transaksies met verbruikers te alle tye billik, redelik en eerlik is. Almal in ‘n besigheid sal ‘n basiese kennis van die Wet moet hê sodat die besigheid nie op risiko geplaas word nie
Die boetes is ernstig, indien die Tribunaal ‘n besigheid/verskaffer skuldig bevind, kan die boete 10% van die jaarlikse omset of R1miljoen wees,wat ookal die grootste is / selfs gevangenisstraf vir die eienaars is ‘n moontlikheid.
Wet beskerm eensydig
Die Wet is eensydig om verbruikers te beskerm. Studies het getoon dat 85% van die Suid-Afrikaanse verbruikers, veral landelike verbruikers, is nie bewus van hul regte nie en 75% het aangedui dat die howe ontoeganklik is; ‘n Gemiddeld van 60% van die verbruikers kla nie wanneer hulle probleme met produkte of dienste ondervind nie of omdat hulle nie weet waar om te gaan kla nie of baie het geen vertroue in die stelsel nie en dat verbruikersklagtes in elk geval nie help nie. Die wet gaan hopelik die tendense verander.
Kortliks opgesom lees die wet soos volg:
- Reg van gelykheid in verbruikersmark:
- Beskerming teen diskriminerende bemar-king.
- Redelike gronde vir gedifferensieerde behandeling in bepaalde omstandighede.
- Verbruiker se reg op privaatheid:
- Reg om ongewenste direkte bemarking te beperk en Regulering van tyd om verbruikers te kontak.
- Verbruiker se reg om te kies:
- Verbruiker het die reg om uit verskaffers te kies en het ‘n reg op kansellering van vooraf bespreking, plekbespreking of bestelling, die verbruiker het ‘n keuse op of nagaan van goedere en het ook regtem met betrekking tot lewering van goedere of verskaffing van diens en mag ‘n verbruiker ook goedere waarmee hy/sy nie tevrede is nie teruggee.Ongevraagde dienste en goedere mag ook van die hand gewys word.
- Reg op blootlegging en inligting: Die verbruiker het die reg op inligting in gewone en verstaanbare taal asook die blootlegging van die prys van goedere of dienste. Verbruikers het die reg op produk-etikettering en handelsbeskrywings. Afleweraars, installeerders en andere moet geïdentifiseer word deur diensverskaffer.
- Reg op billike en verantwoordelike bemarking:Verbruikers het die reg op hoë standaarde vir bemarking van goedere of dienste.
- Reg op billike en eerlike verhandeling:Verbruikers word dikwels blootgestel aan gewentelose gedrag, vals, misleidende of bedrieglike voorstellings, bedreiglike skemas en aanbiedinge, piramiede en verbandhoudende skemas en word daar gehoop dat die wet sulke verhandelings die hok sal slaan.
- Reg op billike, regverdige en redelike bedinge en voorwaardes:Onbillike, onredelike of onregverdige kontraksbedinge val onder die kategorie.
- Reg op billike waarde, goeie gehalte en veiligheid: ‘n Verbruiker het die reg om gehalte diens te eis en het ook regte op veilige en goeie gehalte goedere.
As jy wil kla, kontak die departement van handel en nywerheid se Nasionale Verbruikerskommissie. Bel 086 184 3384 of faks na 012 394 2558 of e-pos contactus@thedti.gov.za.
Klagtevorms kan afgelaai word by www.dti.gov.za/ccrd/complaintforms.htm en gepos word na: Departement van handel en nywerheid, Nasionale Verbruikerskommissie.