OPINIE - Die skulderkenning van 'n moordenaar van Nekkies in Knysna wat in April vanjaar sy saamleefmaat koelbloedig vermoor het, en haar daarna kop eerste in 'n puttoilet probeer wegsteek het, het die pleister van rou geslagsgeweld-wonde afgeruk.
Net die feit dat die toilet, 'n klein privaat spasie spesifiek ontwerp vir menslike afval, 'n integrale deel van die moord vorm, spel een woord: afskuwelik.
En niks-dink-van-haar en lae luis en walglik. Hoekom dan? Jaloesie. Die gewone. Gedink sy het 'n ander man.
Beskermingsbevel
In die hof op Dinsdag 14 Oktober het hy getuig hy het haar geklap, bo-op haar gesit en met sy knieë haar arms vasgepen terwyl hy haar gewurg het tot bloed uit haar mond gekom het en sy gesterf het.
Die vrou het reeds in November verlede jaar 'n beskermingsbevel teen hom verkry, maar dit 'n maand later teruggetrek – iets wat baie algemeen voorkom in gesinsgeweld. Grootste fout wat jy ooit kan maak. Vir watter rede ook al. Moenie.
Doodstraf
Jy hoef nie oor tegniese kennis te beskik om te besef wanneer 'n baba se doek stink nie.
Wie gee om wanneer hy gevonnis word of hoeveel jaar hy gaan kry? Solank hy vir die res van sy natuurlike lewe in die tronk vrot.
Moorde soos hierdie laat mens soms wens ons het steeds die doodstraf gehad. Al skrik dit mense nie af om moord te pleeg nie, verwyder dit minstens sulke wreedaards uit die samelewing - permanent. Maar dis 'n debat vir 'n ander dag.
Eie keuses
Ek lees die afgelope twee weke van Ayesha Curry, vrou van die Amerikaanse basketbalspeler Steph Curry (hy is meer as 'n halfbiljoen rand werd), se onlangse omstrede uitlatings op die Call Me Daddy-podcast dat sy nooit getroud wou wees of kinders wou hê nie en dat sy veel eerder haar eie loopbaan wou volg.
Sy noem ook dat sy dit al vir Steph gesê het en alhoewel hy probeer, hy nie aanklank vind daarby nie.
Vele keyboard warriors het haar gekritiseer dat sy ondankbaar is en haar herinner dat sy nie 'n enkele dag in haar lewe hoef te werk nie. Dit was immers haar keuse om te trou ja, en niemand het haar forseer nie.
Hulle sê ook sy kon mos van sy (eintlik hulle) miljoene gebruik maak en steeds haar loopbaan nagejaag het via studies in die gemak van hul herehuis met vele oppassers vir die kinders; 'n luukse en voorreg wat bitter min mense beskore is.
Sy wou waarskynlik haar waarheid leef, maar die plek en tyd was verkeerd - die mikrofoon van 'n openbare potgooi luister nie terug nie.
Maak sy solank voorbrandpraatjies om te skei as Steph oor twee jaar aftree? Gaan sy die helfte van sy fortuin eis omdat Steph naïef was en glo uit "skoon" liefde getrou het met geen huweliksvoorwaardekontrak nie?
Ook in 2019, op die geselsprogram Red Table Talk, het sy genoem dat vroue dikwels hul aandag op haar man rig, terwyl sy self al 10 jaar lank nie dieselfde van mans ervaar het nie.
Is sy nou verveeld na 15 jaar se huwelikslewe omdat sy jonk getrou het?
Wat maak dit saak? Dit bewys weer eens dat al die geld in die wêreld nie noodwendig innerlike selfvervulling kan bring nie.
Hier sit jy nou met 'n man wat, hipoteties gesproke, die helfte van sy jongmenslewe verkwis het en boonop 'n fortuin kan verloor, met kinders en al, plus dalk die vernedering van 'n ander man. Steeds. 'n Keuse is gemaak. Aanvaar dit net. Hou jou hande tuis. Man en vrou.
Enige tyd
Vroue moet gekoester word en sover as wat jy kan, moet jy haar probeer verstaan. Al is dit selfs net 'n klein bietjie. Alhoewel dit soms moeilik is omdat die twee geslagte in talle opsigte verskil.
Die Bybel sê dis goed om te trou en die huwelik is deur God ingestel, maar dit sê ook terselfdertyd dat dit selfs beter is om alleen te wees. Trou of nie, kies jou maat mooi, saambly of nie.
Wanneer jy jou maat kies, vra jouself: Kan ek en hierdie persoon in harmonie met mekaar saamleef vir die volgende 100 jaar?
Meer belangrik, sal ek, as ek 'n oordeels-fout gemaak het en die geweldmonster in my maat ewe skielik kop uitsteek - iets wat ek dalk jare lank nie gesien het nie - in 'n japtrap, fisies en emosioneel, van hom of haar kan afstand doen?
Wees gereed. Onmiddelik. Vandag nog. En lewe dan verder rustig jou eie definisie van lojaliteit en jou eie konsep van liefde.
Sonder dood as straf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’