KNYSNA NUUS - Wat as 'n grappige skoolbynaam begin het, het ontwikkel in 'n unieke verhoogidentiteit waarmee die Knysna-kletsrymer Knaked besig is om sy merk op Suid-Afrika se battle rap-toneel te maak.
Battle rap is 'n mededingende vorm van hip-hop waarin twee kletsrymers mekaar met voorbereide rymwerk, woordspel en kreatiewe lirieke probeer oortref.
Knaked, wie se regte naam Nathan Jantjies is, se reis is een van tweede kanse, persoonlike groei en 'n passie vir die hip-hop-musiekgenre wat hom telkens teruggeroep het.
Van skoolgrap tot verhoognaam
Jantjies sê die naam Knaked het sy oorsprong in gr. 7 in 2013 gehad toe die leerders gevra is wat hul gunstelingfliek is. Hy het Naked Weapon genoem, waarna sy klasmaats hom dié bynaam begin noem het.
Toe hy in 2015 saam met vriende musiek begin maak, het hy dit as sy kletsrymernaam gebruik.
Die bynaam het egter ook grappies uitgelok omdat hy "Naked" genoem is, maar steeds klere aangehad het. Hy het toe slim besluit om 'Knysna' deel van sy identiteit te maak en die naam na 'Knaked' te verander, letterlik uitgespreek soos sy tuisdorp se naam.
"Ek is naked met 'n k want ek het klere aan," verduidelik hy skertsend.
Tweede kans vir musiek en die lewe
Hoewel hy nie in Knysna gebore is nie, het hy in 2009, op negejarige ouderdom, saam met sy ma en suster hierheen verhuis. Sy tienerjare was egter nie sonder uitdagings nie. Hy het met dwelms begin sukkel, die skool in 2019 verlaat en reeds in 2017 sy musiek opsy geskuif.
'n Voorval in 2020, toe lede van die gemeenskap hom en twee vriende met sambokke en kieries wou aanval, het hom tot nadenke gedwing. Hy het besluit om sy lewe te verander en dié vriendskappe in 2021 beëindig.
In 2022 het hy weer begin musiek skryf. Sy liedjie, "Knaked Beatbox Freestyle", wat hy in 2023 bekendgestel het, het mense aangemoedig om weer na sy musiek te luister.
"Ander rappers in Knysna wat die song gehoor het wou ook self songs saam met my maak, en ek het besef die game roep my terug," sê hy.
In 2024 het 'n vriend hom na 'n ateljee geneem, waarna hy by die musiekgroep 701Musiek aangesluit het.
Sy musiek weerspieël steeds sy persoonlike ervarings en die moeilike tye waardeur hy gegaan het.
Volgens Knaked is battle rap vir hom veel meer as bloot rymwoorde. "Ek glo musiek is een ding, maar rap spesifiek 'n gedeelte op sy eie," vertel hy.
Hy sê hy geniet veral die mededingende aspek daarvan, waar twee kletsrymers teen mekaar te staan kom om te bepaal wie die sterkste lirieke en beste vertoning kan lewer.
Voorbereiding
Knaked se skryfproses behels deeglike navorsing en kreatiwiteit. Hy hou daarvan om verskillende betekenisse in een reël te verpak en gebruik kennis uit verskeie vakgebiede om sy lirieke sterker te maak. Vir rugbyverwysings raadpleeg hy iemand wat die sport speel, terwyl hy sy ma oor Bybelse verwysings uitvra.
"Ek maak altyd seker dat dit 'n feit is wat ek sê," beklemtoon hy.
Elke battle bestaan gewoonlik uit twee rondes van vier minute. Knaked sê hy skryf byvoorbeeld 52 rymreëls per vers en berei twee verse voor. Die hele proses neem gewoonlik sowat 'n maand, insluitend skryfwerk en oefening. Selfs die emosie, tempo en pouses vir gehoorreaksie word vooraf ingeoefen.
"Alles moet op tyd en on point wees," sê hy.
Knaked se eerste battle bly 'n spesiale herinnering, omdat dit hom 'n nuwe vlak van selfvertroue gegee het. Sy mees onvergeetlike ervaring was egter die Moordkuil- tag team battles, wat volgens hom 'n eerste van hul soort in die Wes-Kaap was - moontlik selfs in Suid-Afrika. "Dit was die manier hoe ons twee verskillende style een styl gemaak het."
Knaked sê battle rap word dikwels verkeerd verstaan, en dat mense aanvaar die rappers het geen respek vir mekaar nie. "Ons breek mekaar nie af nie, maar ons toets ons skills teen mekaar," verduidelik hy. Volgens hom is sowat 90% van die skerp opmerkings metafore en deel van die vertoning. Fisieke kontak word egter glad nie toegelaat nie, en kan tot diskwalifikasie lei.
Meer as net 'n battle rapper
Hoewel plaaslike ondersteuning soms uitdagend is, het Knaked en ander Knysna-rappers reeds 'n aanhang regoor Suid-Afrika opgebou. Hy noem KNFLKT Battle Rap League in Kaapstad en Bekgeveg in Gqeberha as ligas waarmee hulle agter die skerms saamwerk om groter uitdagings aan te pak.
Knaked se gunstelinge in die musiekwêreld is Eminem, die Afrikaanse kletsrymer Cream en battle rapper Anderson Burrus.
Hy wil sy naam verder in battle rap vestig, maar ook meer mense na sy opgeneemde hip-hop-musiek lok.
"Ek wil nie net as 'n battle rapper bekendstaan nie, maar as 'n uitstekende all-round rapper," sê hy.
Sy uiteindelike boodskap aan die mense van Knysna is kort maar betekenisvol: "Dankie, Jesus." Dit is ook die titel van sy volgende liedjie wat hy binnekort gaan bekend stel.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’