Update
KNYSNA NUUS - Die Pave the Way-projek by Laerskool Knysna is voltooi en die skool se hoofingang en parkeerterrein het 'n broodnodige nuwe voorkoms gekry.
Maar die skoolgemeenskap hou duim vas om die laaste sowat R68 500 van die R500 000-fondsinsamelingsdoelwit in te samel.
Skoolhoof, Ivor White, sê dit was senutergend om so 'n groot bedrag aan 'n enkele projek te koppel, maar hy is baie verlig oor die ondersteuning wat die skool ontvang het.
"Ons is inderdaad amper daar!" sê hy.
Vir White gaan die projek oor veel meer as net 'n nuwe geplaveide oppervlak. Die skoolgebou en terrein is bykans 80 jaar oud en verdien volgens hom om met respek en liefde hanteer te word.
"Die beeld van die skool is uiteraard belangrik en ouers, leerders en besoekers moet die omgee en sorg ervaar wanneer hulle die terrein betree. Die hoofingang is immers die eerste kennismaking met die skool en eerste indrukke is mos blywend."
'n Groot deel van die projek se sukses kan aan die ondersteuning van Knysna se sakegemeenskap toegeskryf word.
White sê die skool is bevoorreg dat plaaslike ondernemings gereeld tot sy verskeie fondsinsamelings bydra.
"Ons sou bloot nie hierdie projek in een fase kon voltooi sonder die besighede se ondersteuning nie," sê hy.
Tog was die R500 000-doelwit van die begin af 'n groot uitdaging.
"R500 000 is baie geld in ons milieu," sê White. "Alhoewel ons baie ondersteuning van ouers en besighede ontvang het, voel die eindbedrag steeds baie ver!"
Nou word alles moontlik gedoen om die laaste hekkie te oorkom. Verskillende grade hou koekverkopings, civvy-dae, markdae en ander fondsinsamelings om die uitstaande bedrag bymekaar te kry.
White doen daarom 'n beroep op ouers, oudleerders, ondernemings en inwoners om, indien moontlik, 'n laaste bydrae te maak.
"Dit is altyd belangrik om 'n footprint agter te laat. Hierdie projek sal vir 'n baie lang tyd 'n stelling maak," sê hy.
Hy beklemtoon egter dat die skool bewus is daarvan dat daar baie ander skole en organisasies is wat ook ondersteuning benodig.
"Ons vra nooit onnodig nie, dus sal enige laaste bydrae op enige wyse opreg waardeer word."
En wanneer die volle bedrag uiteindelik ingesamel is, hoop White dat elke persoon wat bygedra het, groot of klein, met trots na die projek sal kyk.
"Dit is lekker om te weet dat elke bydrae, hoe klein ook al, 'n aandeel gehad het in die sukses van hierdie projek. Ek glo mense sal hul eie bydraes in so 'n lig sien en besef dat 'n klomp 'bietjies' tot 'n 'baie' kan groei."
Laerskool Knysna se verouderde hoofingang en parkeerterrein is omskep in 'n veilige, verwelkomende en kindervriendelike ruimte vir leerders, ouers en besoekers.
Lees vorige artikels:
- Knysna Primary’s Pave the Way project takes shape
- Knysna Primary calls on community to help pave the way for learners
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’