"Ek voel defeated (sic)," sit sy met haar arms slap langs haar lyf in 'n vertrek waar die getuienis van twee dekades se inploeg in jong lewens oral sigbaar is. "Gister het hulle my skool ook van my weggevat," kyk sy vir die hoeveelste maal vir oulaas om haar rond.
Die oorspronklike Anglikaanse kerkie het in 1914 ontstaan en Rondevlei Primêr is in 1925 as skool geregistreer.
"Toe ek hierheen gestuur is was hier nie toilette, lopende water of krag nie. Daai tyd al het hulle gedink dié skool gaan toemaak en het ek gedweë toegelaat dat ander skole ons laaste bietjie meubels kom haal," vertel sy in die personeelkamer waar mure vol kleurvolle tekeninge, kaarte en plakkaarte vol vrolike foto's elke moontlik spasie opneem.
"En noudat alles hier is, nou maak hulle ons toe," sug sy weer en maak weer verskoning vir hoe haar gevoelens wipplank met haar speel. "Ons sestig leerlinge sal elders in 'n groot skool ingedruk word waar hulle net sal wegraak in die massas. Dit is vir my baie hartseer. Hier ken ons elkeen van ons kinders. Nie net hul skoolwerk nie, maar hulle hele lewe."
"Ek hoor nog die stemmetjies - 'n handjie wat opskiet en skree, 'Gee die Here 'n prys!'" skud sy haar kop terwyl die spookbeelde van jare se betrokkenheid by hierdie kinders voor haar geestesoog afspeel.
Al het die vakansie reeds aangebreek en al het die skooltjie amptelik sy deure moes sluit in opdrag van die regering, kan mens nie anders as om vreedsame warmte wat dié plek uitstraal te voel nie.
Hier het kinders eerste gekom. Hier was 'n veilige hawe.
En aan die stuur van die plek se opbou was 'n veel jonger Saayman wat haarself aanvanklik verwens het vir die lot wat sy toe gedink het haar beval het.
"Maar weet jy, ek het nie gewerk hier nie. Nie 'n enkele dag nie. Op die einde het die Here Rondevlei vir my gegee om my droom en my passie uit te lewe," glimlag sy.
Saayman kom oorspronklik van Soutrivier in Knysna. Haar pa, Leonard Andrews het by Thesen gewerk en dus het hulle in 'n houthuis gebly.
"As kind het ek die planke met 'n lat slae gegee en geweet eendag gaan ek 'n juffrou wees!" lag sy. Saayman onthou hoe haar moeder in die 1960's gewerk het vir 50sent 'n dag.
"My kind, met hierdie 50sent gaan jy leer," het Violet Andrews haar aangemoedig om haar onderwyskwalifikasies te gaan kry. En dit was ook so. Ná sy by Knysna Sekondêre Skool gematrikuleer het, is sy na die Athlone Onderwyseropleidingskollege in die Paarl. Haar eerste aanstelling was van 1970 tot 1976 op Kranshoek. In haar laaste jaar is sy met 'n mede-leerkrag, Michael Simon, getroud en hulle het vier kinders gehad.
In 1977 het sy vir die eerste keer met Rondevlei kennis gemaak.
"In daai dae het ek elke oggend met die treintjie uit Knysna gekom en bo by SANParke se sylyn afgeklim."
Sy het daarna ook by Redlands en Oakhurst gewerk. En hoewel sy dit nie toe besef het nie, was haar uiteindelike terugskuif na Rondevlei in 1992 'n verskuilde geskenk van Bo.
"Ek kon nie verstaan dat ek na dié plekkie toe gestuur word waar daar dan niks is nie, maar die Here het mos planne met hoe Hy jou gaan seën waar jy dit die minste verwag!"
Maar sy onthou ook hoe sy daai eerste oggend reeds in haar gees gesien het hoe dié skooltjie water, toilette, krag en selfs 'n biblioteek en speelparkie sou kry. En vandag getuig die biblioteek waarop staan "Stilte asseblief, ons lees nou!" sowel as die groentetuin (deur Rein Buysman aangelê), speelparkie, nuwe toilette wat die destydse putlatrines vervang het, die bome geplant op Boomplantingsdae en die besige klaskamers van waaraan een persoon se visie gestalte kan gee. Matte, boeke en 'n voertuig is later deur die Rotariërs geskenk en tussen hulle en Oakhill School is al die leemtes gevul. Daar is ook 'n ruim onderdak-leefarea waar die kinders elke dag "aan tafel, soos mense" 'n maaltyd gehad het.
"Dis 'n dankbare mens wat hier voor jou sit," sê sy.
Vir die eerste twee jaar was sy alleen op Rondevlei, maar in 1994 het Gert Swarts hom by haar aangesluit as leerkrag. Van 1998 as was hulle drie leerkragte met Kobie Ferreira wat Graad 4 en 5 behartig het en het hul leerlinggetalle van 79 tot soveel as 90 gewissel van Graad 1 tot 7.
"Ek het altyd gesê as ek die dag agter 'n lessenaar sit met 'n stoel wat op wieletjies kan draai, dan sal ek 'n volwaardige hoof wees," streel sy liefdevol oor die tafelblad van die lessenaar waar haar rekenaar steeds staan. Baie van die skool se meubels is geskenk deur die Arthur Terry School in Brittanje nadat 'n groep gemeenskapswerkers by Rondevlei kom aandoen het.
"What are you trying to do here?" (sic) het Sue Bailey glo gevra, en toe sy hoor dit is veronderstel om 'n skool te wees, het sy in trane uitgebars. Dit was die begin van 'n hegte band met dié skooltjie.
Saayman gaan nog lank tyd nodig hê om haar verlies te verwerk en om in haar hart van Rondevlei se lewe en kindergesiggies te kan afskeid neem.
"Die doelwit van my om hierheen te kom was om die kind se grondslag in sy lewe te kom lê - en dit het ons bereik," beaam sy heftig. "Om onse kinders holisties op te voed en 'n waardestelsel in hulle in te bou. Ek is baie elke matriekafskeid! Om te sien hoe 'n kind met 'n geleende 'suit' en skoene van 'n houthok agter 'n hok in 'n plakkerskamp sy diploma en 'n borg kry, dit is my beloning!"
Sy meen naas 'n ma is die een wat 'n kind die liefste het, sy juffrou. En al het Rondevlei se deure miskien gesluit, sal wat Juffrou Saayman en haar personeel vir hul kinders oor die jare heen gedoen het, bly voortleef in elke sukses wat haar leerders as volwassenes bereik.
(Nie een om te gaan lê nie, is Saayman van plan om 'n nasorgsentrum in George te begin sodra sy die finansies daarvoor het en het sy reeds 'n sopkombuis op die been. Behalwe vir drie van haar eie volwasse kinders wat nog by haar woon, sien sy boonop kans om om tesien na 'n verdere vier kleintjies, met wie dié juffrou beide haar hart én haar kamer deel. Vir meer inligting kontak haar by 082 563 9499. )

Rondevlei Primêre Skool-hoof, Johanna Saayman (middel agter) met Vera Harris (voorsitter van die beheerraad), wesies Justin en Justine Swarts en skoolopsigter, Corrie Williams.
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS