TUINROETE NUUS - SA for Hope (voormalige Water Warriors) reik op 20 November weer uit met droogte-hulp na die area tussen Calitzdorp, Oudtshoorn en Volmoed, maar het dringend hulp nodig met die vervoer van bale wat in Oudtshoorn afgelewer word.
"Ons het 25 bakkies nodig om die 400 bale te kan skuif en nog sewe om sewe en 'n half ton mielies te laai.
"Ons doen 'n beroep op George-inwoners om by ons konvooi aan te sluit en te help. Ons wil nie graag trokke gebruik nie, want dit vat langer om op en af te laai," sê Pieter du Plessis, 'n plaaslike direkteur van SA for Hope.
Hulle doen die uitreike te midde van groot uitdagings soos die skerp stygende brandstofprys wat die vervoerkoste die hoogte laat inskiet en ook 'n effek het op die pryse van kos.
Du Plessis sê die publiek se ondersteuning verstom hulle egter elke keer wanneer hulle 'n uitreik doen. 'n Trok van Ladismith en bakkie met 'n sleepwa is ook reeds aangebied om met die komende uitreik te help.
"Ek meen ons gaan hierdie keer seker 'n konvooi van 40 of meer wees. Daar sal ook gewone voertuie wees wat kruideniersware en water sal vervoer. Dis 'n ongelooflike seëning vir die 100 gesinne, plaaswerkers en boere wat onder die droogte gebuk gaan."
Fondse om mielies aan te koop word ook benodig. SA for Hope koop dit graag aan omdat dit hoog is in proteïenwaarde. "Omdat boere nie meer voer kan aankoop of bekostig nie aborteer die vee, so ons wil hulle op hierdie manier ook help."
Du Plessis doen verder 'n beroep op mense om steeds nie-bederfbare kos en water te skenk. Dit kan by Tavcor George afgelaai word of by Kobus Volschenk wat Donderdae en Vrydae tussen 11:00 en 14:00 by Pick n Pay, Vierdestraat se ingang sit.
Kontak Pieter du Plessis by 076 844 6435 as jy kan help.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'