Gallery Video
KNYSNA NUUS EN VIDEO - Die jare-lange droom van ’n Pietermaritzburg stoomtrein-ingenieur om die Outeniqua Choo Tjoe te ry, het op ’n vreemde dog prettige wyse verlede week tot vervulling gekom.
As skoolseun het Andries Keyser daarna gesmag om Knysna te besoek – spesifiek weens sy massiewe passie vir stoomtreine – en wou hy met alle graagte op dié wêreldbekende Choo-Tjoe ry.
Hierdie voorliefde van Keyser het toe in ’n volwaardige beroep ontaard, en vandag bou en herstel die 30-jarige Keyser nie net “volgroeide” stoomtreine nie, maar miniatuur weergawes ook.
“As skoolseun het ek glad nie van rugby gehou nie, en het ek my Saterdae spandeer om aan stoomtreine te werk. Almal het vir my gelag, maar nou het ek my eie trein en hulle het nie,” grap die kranige lokomotiefdrywer.
“Na matriek was my eerste vakansie op Knysna gewees, maar teen hierdie tyd was die trein al weg. Sedertdien wag ek elke jaar dat die Choo Tjoe moet terugkom, maar nog niks het gebeur nie,” vertel Keyser.
Met dié dat die Outeniqua Choo Tjoe vir meer as ’n dekade al nie meer loop nie, het Keyser besluit om hierdie keer sy eie miniatuur lokomotief saam te bring op vakansie na Knysna.
Op Valentynsdag het hy die rit tussen Brenton-on-Lake en Knysna-treinstasie op Doreen – vernoem na sy ma – met ’n sakke-pakke en toet-toet-toet aangepak.
“Ek het maar besluit om self plan te maak. Ek probeer al vir ses maande lank om toestemming by die regte owerhede te kry, maar niemand kan my ooit ’n reguit antwoord gee oor wie die spoor besit of wie magtiging het om my toe te laat om die spoor te gebruik nie,” sê Keyser.
Dus het hy die dae voor sy nie-amptelike, nie-goedgekeurde treinrit die spoor self geloop, inspeksies gedoen en seker gemaak alles is in orde.
“Ek het besef dit is makliker om verskoning te vra as om toestemming te kry, so hier is ek nou. Ek vra wel nederig om verskoning vir my aksies, en hoop ek sal vergewe word,” las hy by.
Kyk 'n video hieronder:
Volwaardig in elke sin
Volgens Keyser is Doreen aangepas vir groot spore wat dit moontlik maak vir haar om vinniger as gewoonlik te ry weens haar breedte.
“Ons sou maklik 40km/h kon haal op Doreen, maar omdat die spoor oud en baie oorgroei is met onkruid, ry ek maksimum 20km/h,” sê hy – die gereguleerde spoed vir daardie deel van die spoor, volgens hom.
Hy sê dat Doreen op ’n gewone dag tot en met 30kg steenkool kan gebruik, en ongeveer 100 liter water.
“Sy het selfs ’n vangbak vir die warm kole, so nêrens word kooltjies agtergelaat nie,” voeg hy by.
Al langs die spoor, van die Knysna-treinbrug tot by die stasie, het sy inwoners van Knysna in hul spore laat staan om die gedoente te bekyk, foto’s te neem en ’n vinnige “wanneer kom die trein” na Keyser te skree.
Twee dames het selfs aan hierdie joernalis gesê dat hulle veel eerder so ’n treintjie oor die brug sou neem as om ’n taxi te haal.
'n Familie-affêre. Aan die einde van sy rit op Doreen is dit tyd om haar op te laai en huistoe te neem. Saam met Andries Keyser (agter, links) is Johan Keyser en Waldo Bosse. In die middel sit Doreen Keyser, en voor is Keyser se vrou Gisela (links) en Ansie Bosse.
Ongelukkig was Keyser se dag van “speel” op die spoorlyne kortgeknip deur ’n plaaslike besigheidseienaar met belange in die herbou van die Choo-Tjoe.
Met Keyser se terugkeer na Brenton-on-Lake per spoor, het dié aanvanklik-onstoke man hom aangevat, en aangedring dat hy Doreen summier van die spoor verwyder, waarop Keyser gemaak het soos die man sê.
Lees meer hieroor op bladsy 4 van vandeesweek se Knysna-Plett Herald.
Op die ou end was dit dalk ’n kwessie van fluit-fluit vir Keyser, maar sy storie is nog lank nie uit nie – hierdie was die vierde soortgelyke rit wat hy met sy treintjie aangepak het.
Volg Keyser Locomotive Works op Facebook om te sien wat hy verder aanvang.
Onthou jy nog?
Die kinderrympie van die klein treintjie: Sakke-pakke, sout en peper, gee my stoom dan loop ek beter.
Lees 'n vorige artikel: Klein stoomtrin pak spoorlyn aan
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'