KNYSNA NEWS - Bikers4 Life het op Vrydag 16 Oktober die inwoners van Vermont-ouetehuis in Hornlee bederf met 'n groot verskeidenheid toiletware wat deur die motorfietsklub ingesamel is.
Die meeste items is deur die gemeenskap geskenk tydens 'n seniorwaarderingsdag wat die klub op Saterdag 26 September by Loeriepark aangebied het.
Werner Erasmus-Le Grange, voorsitter van Vermont-ouetehuis, het die groep motorfietsryers met 'n breë glimlag bedank.
Hy het gesê dit lyk dalk na 'n klein gebaar, maar dat dit sal 'n groot verskil in die inwoners se lewens maak.
"Ons is werklik dankbaar vir julle omgee-harte en dat julle Vermont bystaan. Hierdie skenking van broodnodige toiletware is 'n groot bederf en sal die lewe vir ons inwoners soveel makliker maak.
"Baie dankie vir julle oop hande en harte, asook die tyd wat julle vrywillig afgestaan het om 'n verskil te maak."
Danie Wolmarans, president van Bikers4 Life, het op sy beurt gesê dit is vir die klub se lede baie spesiaal om veral die bejaardes van Vermont te bederf.
"Dit is 'n liefdestaak wat ons na aan die hart lê. Ons moenie die bejaardes ooit vergeet nie, want as ons gelukkig is, eindig ons hopelik ook eendag hier."
Hy het ook die personeel wat die oorhandiging bygewoon het bedank vir die onbaatsugtige werk wat hulle met groot passie en liefde verrig.
"Ons weet julle gaan uit julle pad om na die oues van dae om te sien en seker te maak dat hulle nie afgeskeep of aan hul eie lot oorgelaat word nie. Boonop moet julle soms bekommerd wees oor die daaglikse behoeftes waarvoor julle verantwoordelik is. Hierdie skenking bring hopelik 'n bietjie verligting.
"Vir Bikers4 Life gaan dit egter oor veel meer as net geskenke. Die klub se lede is altyd bereid om hul tyd en energie in te span om 'n bietjie lig in iemand anders se lewe te bring - en soveel te meer wanneer dit by bejaardes kom.
"Met hierdie gebaar wil Bikers4 Life vir die inwoners van Vermont wys dat hulle nie vergeet word nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’