KNYSNA NUUS - ‘n Slenter om inligting oor Sassa-begunstigdes te bekom, het onlangs in Oudtshoorn en moontlik in ander Suid-Kaap-dorpe kop uitgesteek.
'n Persoon wat haarself as Charmaine voorstel bel lede van die publiek onder die voorwendsel dat Sassa (SA Social Security Agency) kospakkies by die persoon wil aflewer. Voordat die kospakkies afgelewer kan word, word die persoon se woonadres, identiteitsnommer en Sassa-kaartnommer gevra.
Die Oudtshoorn Courant het op 24 en 25 Julie bewus geraak van verskeie sulke voorvalle en by Sassa navraag gedoen.
“Sassa deel nie kospakkies uit nie, tensy daar by die plaaslike Sassa-kantoor aansoek gedoen word vir tydelike maatskaplike verligting van nood, wat in sekere bewese omstandighede toegestaan word,” sê Shivani Wahab, senior bestuurder van Sassa se kommunikasie- en bemarkingsafdeling in die Wes-Kaap.
Moenie inligting gee nie
Volgens Wahab, vra Sassa ook nooit telefonies enige persoonlike of Sassa-inligting nie. As Sassa inligting van ‘n begunstigde benodig, word die persoon gevra om persoonlik die Sassa-kantoor te besoek.
Begunstigdes word ook versoek om nooit besonderhede oor hulle Sassa-kaart aan enigiemand te verskaf nie, want dit kan daartoe lei dat iemand anders geld uit die begunstigde se rekening kan onttrek.
“Ten einde te voorkom dat onwettige onttrekkings uit maatskaplike toelaes gemaak word, moet Sassa-begunstigdes nooit reageer op SMS-boodskappe wat gratis lugtyd, elektrisiteit of ander dienste aanbied nie,” sê Wahab. “Hulle moet ook nie die Sassa-kaart gebruik as sekuriteit om ‘n lening aan te gaan of om enige finansiële diensprodukte te koop nie.”
Kry jou geld terug
Om die ongeoorloofde onttrekkings te stop, moet die begunstigde so gou moontlik die naaste Sassa-kantoor besoek, waar personeel die begunstigde se besonderhede sal afneem sodat die saak ondersoek kan word.
Die begunstigde sal ook ‘n verklaring by die naaste polisiekantoor moet aflê waarin hulle sê dat hulle niemand toestemming gegee het om onttrekkings te maak nie. Sodra die saak ondersoek en bevind is dat ongeoorloofde onttrekkings gemaak is, word die bedrag gewoonlik binne drie werksdae aan die begunstigde terugbetaal word.
Kontak die hulplyn
Enigiemand wat so ‘n oproep ontvang het en vermoed dat iemand hul Sassa-besonderhede so in die hande gekry het, of agterkom dat ongeoorloofde onttrekkings gemaak is, moet die naaste Sassa-kantoor onverwyld besoek, of dit aanmeld by die tolvrynommer 0800 60 10 11, of die Wes-Kaapse hulplyn by 021 469 0235.
Kapt Louis Visser van Oudtshoorn-polisie het die publiek gemaan om geen persoonlike inligting aan enigiemand te verskaf nie. “Wees bedag daarop dat enigiemand wat hierdie besonderhede verlang dit vir eie gewin kan gebruik.”
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'