KNYSNA NUUS - Die nuutgestigte tak van Solidariteit Helpende Hand in Knysna het onlangs hul eerste projek aangepak, wat hulle sê hulle in staat gaan stel om armoede in die omgewing te verlig, te verbreek en te voorkom.
Wilma Snetler, die Knysna-tak se voorsitter, sê die tak se eerste uitreik-aksie was tydens die onlangse Timber Festival wat by Timber Valley gehou is voor die land weens die koronapandemie in inperking geplaas is.
"Hierdie was ons eerste projek wat met groot entoesiasme aangepak is. Ons kon die geleentheid benut om bewusmaking oor Helpende Hand se werk te skep. Dit het ook gedien as 'n fondsinsamelings-geleentheid en om onderdeursteuners en lede vir die nuwe plaaslike Helpende Hand-tak te werf," sê Snetler.
Sy voeg by dat Helpende Hand die geleentheid gebruik het om lootjies te verkoop en die fondse aan te wend om nood in die gemeenskap te verlig. Daar was twee gelukkige trekkings gehou. Die eersteplekwenner was Elize Klue wat 'n kruiwa vol inhoud gewen het. Robert Adams was in die tweede plek en het met 'n sak vol gereedskap huis toe gegaan.
"Dit was vir ons heerlik om deel te kon wees van die fees. Die fees is deel van die geskiedenis van Knysna, wat jare terug ontstaan het as gevolg van boswerkers, plantasies met sy unieke sport en pret. Dit is hier waar die gemeenskap bymekaar kom om te kuier, te leer en pret te hê. Dit is ons mense en hulle moet ingelig word oor wie Helpende Hand," sê Snetler.
Helpende Hand het tans 'n "Josef Silo" by die Knysna SuperSpar waar inwoners nie-bederfbare goedere kan skenk wat vir gesinne in nood uitgedeel gaan word.
Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, verduidelik die Josef Silo-naam spruit uit die Bybel, toe Josef opdrag gekry het om in Egipte tydens die sewe jaar van oorvloed, kos bymekaar te maak en te stoor vir die sewe jaar van hongersnood wat gevolg het.
"Ons bedoeling met die Josef Silo is dus om voorsiening te maak vir die moeilike tye wat ons tans ervaar én voorsorg te tref vir moeilike tye wat kan kom as die dae van inperking verby is," sê Noëth.
Om Helpende Hand se Knysna-tak te ondersteun of om by hulle aan te sluit, bel Snetler by 081 571 8189. – Verskaf deur Solidariteit Helpende Hand
Die Helpende Hand Knysna-taklede iWilma Snetler, Saag Stander, Estelani Stander, Angela Adams Alisha de Lange en Marlise Labuschagne.
Saag Stander en Wilma Snetler.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'