Van Rooyen en Andrews het op Vrydag, 20 Mei by die Knysna Koppe verdrink, nadat hul boot omgeslaan het.
Vier ander vissermanne het die ongeluk oorleef.
"My man het ‘n week voor die ongeluk vir my vertel van die boot se enjin wat foutief is. Ek het vir hom gesê dat hy liewer by die huis moet bly, maar hy het net gevra waar ek sou geld kry as hy nie gaan werk nie," vertel ‘n bedroefde Van Rooyen.
Volgens Andrews het haar man ook vertel van die boot wat foutief is. "Gerhard het die Woensdag voor die voorval gebeur het, vir my gesê dat die boot se enjin nie reg is nie. Ek het ook gesê hy moet by die huis bly, maar hy het gesê dat Gerhard Liebenberg (eienaar van die boot) na die boot sal laat kyk," sê ‘n hartseer Andrews.
Andrews vertel verder, "Ek is baie teleurgestel met die feit dat Liebenberg nog geld afgetrek het wat my man hom geskuld het. Ek bedoel, my man het gesterf terwyl hy in sy werk was."
Alhoewel beide Van Rooyen en Andrews teleurgesteld voel oor hul eggenote se salarisse wat hulle van Liebenberg ontvang het, is hulle dankbaar dat hy hulle help met die onkoste van die begrafnis.
Andrews het haar man beskryf as ‘n stut op wie sy gesin kon steun. "Gerhard was ‘n liefdevolle man en mens. Hy het uit sy pad uit gegaan vir ons. Hy het altyd seker gemaak ons het iets op die tafel. Hy het ook elke dag die kinders gehelp met hul tuiswerk," vertel Andrews.
Sy sê ook dat haar twee kinders, Geraldine Pasja en Mackwill Pasja die nuus nie goed hanteer het nie. Andrews sê, "My kinders was in ‘n toestand. Dit breek my as moeder-alleen, om hulle so te sien."
Van Rooyen beskou haar man, Dawid, as ‘n goeie man wie altyd geglimlag het. "My man het nie baie gepraat nie. Hy het altyd ‘n glimlag gehad. Ek wil die NSRI en noodhulpdienste bedank vir hul spoedige optrede. Dawid se pa het ook jare terug verdrink en sy liggaam is tot vandag toe nog nooit gevind nie. Dit gee my vrede, wetend dat my man se liggam gevind is," vertel Van Rooyen.
Dawid van Rooyen sal onthou word deur sy vrou, Maria, en sy vier seuns, Benjamin Charlson, Jerome Charlson, Wayne Stroebel en Ashley Charlson. Gerhard Andrews laat sy vrou, Jocelina Andrews en twee kinders, Geraldine Pasja en Mackwill Pasja agter.
Die begrafnis van Van Rooyen sal op Saterdag, 28 Mei om 09:00 vanaf sy woning, 972 Kalenderstraat begin en om 10:00 voortgesit word by die Christelike Geloofsendingskerk in Proteastraat, Katanga. Andrews se begrafnis sal ook komende Saterdag gehou word, maar die tyd en plek moet nog bevestig word.
Die Andrews-gesin sal komende Saterdag, 28 Mei afskeid neem van ‘n eggenoot en pa, Gerhard Andrews. Van links is Geraldine Pasja, Jocelina Andrews en Mackwill Pasja.