Volgens oorlewering was die roete die laaste tog van St. James en is hy begrawe by die eindbestemming, die katedraal van Santiago de Compostela.
Bosman het dié uitmergelende 750km-staproete vanaf St. Jean in Frankryk tot by Santiago in die Weste van Spanje in 'n tydperk van 30 dae afgelê teen gemiddeld 25km per dag.
"Ja, ek het baie gewig verloor en my hare was kortgeskeer," vertel sy langs haar kombuistafel in Knysna waar ikoniese skilderye van verskillende godsdienste met vrolike familiefoto's meng. "Ek was nooit van plan om my dagboek in boekvorm te publiseer nie. Ek het hierdie dagboek vir myself gehou, meer sodat ek kon onthou vanwaar ek gekom het en waarnatoe ek oppad is." Die dagboek is onlangs gepubliseer onder die titel, Die Fkn Camino
Mens kom vinnig agter Bosman is 'n plat-op-die-aarde persoon en sy gebruik die woord 'huisvrou' telkens om na haarself te verwys. Daar is geen opgesmuktheid of 'n poging om iets meer te laat klink as presies hoe sy dit ervaar het nie - 'n voetsoolse ervaring van seer tone, blase en knieë, storte deel met hordes ander vreemdelinge, slaap in gemeenskaplike sale vol snorkendes, 'n rugsak wat byna 10kg weeg en net drie stelle klere.
"My grootste realisering was nog voor ek die eerste tree gegee het - die feit dat ek, op my ouderdom, eggenoot vir 36 jaar, ma van vier kinders, ouma van drie kleinkinders, so iets stoksiel alleen gaan aanpak - dit was vir my een reuse-sprong uit my gemaksone uit!"
Bosman sê sy het nog nooit voorheen alleen gereis nie en sy was beslis nie gewoond daaraan om met 'n swaar rugsak vir agt ure per dag te stap of snags in kajuitbeddens ('bunk-beds') te slaap nie.
"Ek nou nie daarvan om badkamers met vreemdes te deel nie. Ek praat nie Spaans nie en my enigste lewenslyn was my selfoon, dus het ek vandat ek by George op die vliegtuig geklim het soos 'n vis op droeë grond gevoel. Maar altyd met die wete dat dit oukei is - en sal wees."
Met stok en moed het sy die pad aangedurf en onthou dat sy dankbaar was om mede-Suid-Afrikaners raak te loop omdat die eerste deel van die pad, vol kruise, donker en mistig was oor die Pirenese berge wat Frankryk van Spanje skei.
"'n Mens sien 'n baie groot verskeidenheid mense wat die roete stap - van die kleinste Japanese vroutjies tot 'n blinde man of iemand met 'n hond - en daar ontwikkel woordeloos 'n tipe kameraderie. Party mense loop jy vanaand by die herberg weer raak en ander sien jy eers weer oor drie dae waar julle mekaar soos ou vriende groet, en sommige kom jy nooit weer teë nie."
Al het Miemie se man, Francois tuis met 'n stapgids van sy eie gesit en gedurig vir haar inligting deurgestuur per sms, sê sy dat sy van die begin af geweet het hierdie staptog is 'n 'alleending'.
"As my man of 'n vriendin of een van my kinders saam was, weet ek, sou dit 'n heel ander ondervinding gewees het. Vir watter rede ookal, moes ek hierdie ding alleen aanpak. Vir myself!"
Stappers stap elk teen hul eie pas, solank mens net voor 20:00 by 'n herberg ingeteken is. Daar ontvang elkeen 'n pelgrimsete wat gewoonlik bestaan uit 'n homp droë kaas, varkvleis (soms) en 'n halwe bottel wyn.
"Daar is ook restaurante waar mens kan gaan eet en dan los jy sonder bekommernis jou rugsak buite. Saans by die herberg aangekom, was 'n mens jou klere, laai jou selfoon en stort. Ek het vinnig geleer mens was nie jou sokkies te gereeld nie, want dan kry jy blase!" En die wasgoed wat nog nie teen sonop droog is nie, maak mens met 'n haakspeld aan jou rugsak vas om langs die pad droog te word.
"Almal is baie bedagsaam en as jy te lank iewers sit en rook sal iemand binnekort stop om te vra of als reg is. Mens kry weer geloof in jou medemens en daar ontwikkel 'n samehorigheid wat jou woordeloos dra."
Op haar laaste dag toe sy die stad Santiago binnestap, het dit verskriklik gereën.
"Met die instap deur die stadspoorte het ek vir myself gesê: 'Oukei, nou het jy die Camino gestap and 'never again' - amper soos vir die eerste keer kraam. Maar die Camino los jou nie sommer nie. Hoeveel keer stap ek nie elke dag my roete nie?"
Tuis is sy soos 'n heldin ontvang.
Iemand vra haar, na haar staptog of sy baie, of soms, gehuil het.
"Nee, glad nie. Net baie gevloek. En vandaar die titel." (Haar dagboek heet "Die fkn Camino.")
"Waarin het ek my begewe? Hoe ver is 765km? Stap dit en jy sal weet."