Die afgelope tyd het ek 'n hele paar navrae gekry in verband met absesse by skape, bokke en beeste.
Oorsaak
Die bakterie Corynebakterium ovis is hoofsaaklik verantwoordelik vir die absesse by skape en bokke, terwyl Corynebakterium pyogenes meestal vir die absesse in beeste verantwoordelik is. Die bakterie is oral in die grond, mis, geboue, en dies meer en dit dring gewoonlik die dier se liggaam binne deur 'n wond of stukkende plek op die vel.
Oordraging en verspreiding
Die bakterie kan vir lang tye in mis in krale oorleef. Higiëne is hier die wagwoord, en besmetting moet probeer voorkom word tydens b behandelings soos kastrering, die afsit van stertjies, inentings en oormerk. Die skeer van skape en die selfs die skeerders se klere kan 'n belangrike bron van besmetting wees.
By beeste is bosluisbyte, horingwonde en krapmerke deur doringbome gewoonlik ver-antwoordelik vir openinge in die vel waardeur die bakterie die liggaam kan binnedring.
Simptome of siektetekens
C. ovis se algemeenste besmetting is die vorming van absesse in die limfkliere voor die blad, in die boud en in die lieslap van die boud. Soms is daar absesse onder die oor, in die longe, lewer, milt en rugmurg van skape. Die absesse is in die begin sag maar word la-ter hard. Dit groei stadig, maar die oppervlakkige absesse word redelik groot en bars dan oop. Die oopbars van 'n abses moet te alle tye verhoed word omdat jy so jou hele plaas met die bakterie kan besmet.
Diere met ingewands-absesse teer gewoonlik stadigaan uit, raak agter as jy hulle aanjaag en sukkel om asem te haal.
Behandeling
Hou die die abses dop en raadpleeg jou veearts voordat dit self oopbars en jou plaas besmet. Indien dit 'n waardevolle dier is kan hy die abses met 'n kruissnit oopsny (+) en dan noukeurig al die dikkerige vaalgroen etter in 'n bak opvang om te voorkom dat dit in die veld beland en die plaas verder besmet. Die wond moet noukeurig skoongemaak word met 'n kiemdoder. C pyogenes se etter is gewoonlik meer romerig geelwit van kleur.
Voorkoming en beheer
- Enstof is beskikbaar, maar bied nie goeie beskerming nie.
- Bepaal watter bakterie op jou plaas voorkom.
- Ent lammers twee keer vier weke uitmekaar met C. ovis, en daarna jaarliks, liefs ses weke voor skeer.
- Ent jong diere drie maal met C. pyogenis 10 dae uitmekaar en daarna ses-maandeliks .
- Skeer oudste diere laaste.
- Laat slag eerder die diere as dit nie waardevolle diere is nie.
- Onthou: Higiëne en bestuur.