Navorsing wat hy vir sy doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch gedoen het, het Jan Olivier, 'n plaaslike granaatprodusent, help besluit watter verpakking die beste vir sy uitvoerprodukte sal wees. Caleb se navorsing ondersteun produsente, verskaffers en prosesseerders in Suid-Afrika se ontluikende granaatindustrie en help hulle om die regte verpakkingsmateriaal en toestande te kies waaronder produkte geberg kan word.
Hierdeur word die optimale raklewe en beste moontlike kwaliteit van vars granaatprodukte verseker. "Wanneer produsente nuwe produkte verpak, skiet hulle baie keer 'n soort skoot in die donker en kies materiaal en houers wat voorheen ook vir ander soorte vrugte gebruik is," vertel Caleb, wat van Nigerië afkomstig is en in 2007 na Stellenbosch gekom het om sy nagraadse studies in Mikrobiologie en uiteindelik ook sy doktorsgraad in Voedselwetenskap te behaal. "Dan hoop hulle maar dat dit ook vir hul produk sal werk."
Regte verpakking en stoortoestande verleng raklewe Vars of vars gesnyde vrugte en groente metaboliseer voortdurend nadat hulle gepluk of geoes is. Kwaliteit gaan voortdurend agteruit weens prosesse soos uitwaseming en asemhaling.
Caleb het daarom wiskundige modelle ontwikkel om die fisiologiese response van granaatvrugte onder spesifieke stoortoestande te verstaan, en te sien hoe dit plaasvind danksy die gebruik van gemodifiseerde atmosfeerverpakkingstegnologie (ook bekend as MAP tegnologie).
MAP tegnologie is 'n dinamiese proses waardeur gassamestelling binne-in verpakking verander word. Dit hang af van die interaksie tussen die uitwasemingstempo van die vars of varsgesnyde produk, tesame met die uitruil van gasse en waterdamp deur die plastiekmateriaal.
Hierdie prosesse word beïnvloed deur koelkamertemperature, die dikte van die verpakkingsfilm bo-oor 'n houer, die oppervlakte van 'n houer, die gewig van die produk en die leë ruimte binne-in die houer. Indien dit reg toegepas word, kan MAP tegnologie help om fisiologiese prosesse te verlangsaam en dus die tempo te vertraag waarteen vrugte sag en ryper word. Dit verminder ook die risiko vir verskillende fisiologiese afwykings en voorkoms van infeksies.
Advies aan die granaatbedryf
Caleb se bevindinge beklemtoon die belang daarvan om verpakte granaatpitte en hele vrugte teen optimale koelkamerkondisies regdeur die verskaffingsketting te stoor, asook die waarde daarvan om die verpakking van vars vrugte en groente sistematies aan te pak.
Advies uit sy studie sluit in:
- Bergingstoestande -en die lengte daarvan beïnvloed fisiogiese response (bv. uitwaseming- en asemhalingsvlakke) van vars granaatpitte;
- Granaatpitte word ten beste teen 5°C en 96% relatiewe humiditeit vir meer as 8 dae gestoor;
- Met MAP tegnologie en by lae koelkamertoestande is dit moontlik om granaatpitte vir tot 10 dae vars te hou;
- Verpakking het 'n belangrike invloed op die verandering in aroma van granaatpitte. 'n Verlies daaraan word teen Dag 10 waargeneem;
- As produkte teen hoër temperature gestoor word, moet geperforeerde film bo-oor die verpakking gebruik word sodat gasse wat opbou kan ontsnap. Bergingstoestande van hoër as 5 °C word egter nie aanbeveel nie.
Hy sê dis waardevol om met navorsers soos Caleb van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Na-Oes Tegnologie saam te werk, want "mens kan nie meer deesdae 'n besigheid bedryf sonder dat jou besluite op wetenskaplike beginsels berus nie".
Olivier is 'n alumnus van die US wat na voltooiing van sy BCom Hons in Rekenaarwetenskap vir 10 jaar in die IT-bedryf gewerk het. Hy het daarna die lemoenplaas Houdconstant in die Porterville-distrik geleidelik omgeskakel na een van die eerste granaatproduserende plase in Suid-Afrika. Hy bedryf ook die verpakkingsaanleg Pomegranate Fruit SA.
"'n Paar jaar gelede het almal gedink bloubessies is die nuwe supervrug, maar studies oor die gesondheidskwaliteite van granate wys dat dit nou die nuwe super-supervrug is," vertel Olivier oor die groeiende aanvraag vanuit veral Brittanje, Asië en die VSA na klaar verwerkte granaatpitte. Dit is die 18de mees gewilde vrug in die wêreld, is hoog in anti-oksidante, en werk hipertensie en lewerbeserings teen.
Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Na-Oes Tegnologie Caleb se studie maak deel uit van 'n veel groter navorsingsfokus deur die Suid-Afrikaanse Leerstoel (SARChI) in Na-Oes Tegnologie in die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch om die plaaslike granaatbedryf te ondersteun.
Prof. Linus Opara, wat dié SARChI-leerstoel beklee, het die eerste keer navorsing op hierdie niche-vrug gedoen terwyl hy by die Sultan Qaboos Universiteit in Oman werksaam was. Kort nadat hy in 2009 na die Universiteit Stellenbosch geskuif het om die leerstoel tot stand te bring, het produsente in Suid-Afrika se groeiende granaatbedryf by hom om raad aangeklop.
"Ek het meer studente wat op granate werk as op enige ander vrug," vertel prof. Opara oor die navorsing wat gerig is op waardetoevoeging. Hy lei tans studies om onder meer 'n indeksgids te ontwikkel wat boere kan help om te bepaal wanneer vrugte reg is om te oes, die mees optimale stoorkondisies te identifiseer, en die fitochemiese eienskappe en anti-oksidantiese werking van verskillende kultivars te bepaal. Van hierdie projekte word gedryf in samewerking met navorsers van Oman en Frankryk.
"Ek sou graag eendag onthou wou word vir die klein rol wat ek kon speel in die ontwikkeling van menslike kapasiteit binne die plaaslike bedryf, en die ontsluiting van verwante kennis daaroor," voeg dié landbou-ingenieur by, wat 'na-oes' definieer as enigiets wat plaasvind vandat 'n vrug geoes word tot dit op 'n verbruiker se bord beland. Dit sluit vervoer, koelkamerprosesse en verpakking in.
Het jy geweet?
Die meeste granate word in die Noordelike Halfrond gekweek. Indië is die wêreld se grootste produsent.
Granate word in die Noordelike Halfrond tussen September en November geoes. Dit bied die geleentheid vir produsente vanuit die Suidelike Halfrond, insluitend Suid-Afrika, om produkte uit te voer na die Noordelike Halfrond gedurende laat Februarie tot Julie.
Kontak dr. Oluwafemi Caleb by 021 808 406.
ARTIKEL: ENGELA DUVENAGE
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo | Tuinroete nuus'