Maande se voorbereidings en beplanning vir die jaarlikse Mej. Tuinroete en Klein-Karoo is voltooi en die 12 finaliste, wat die ‘gesig’ van die projek is, is reeds aangewys. Maar lesers het 'n rol om te speel as die ‘liggaam’ van die projek. Koop nou 'n kaartjie vir die skouspel op Saterdag 25 September by die Pinnacle Point Strand- en Gholflandgoed op Mosselbaai en bring jou kant.
Al die geld wat met die kaartjieverkope geïn word, word net so aan die vier veilige huise in die Suid-Kaap geskenk. Hierdie broodnodige fondse word gebruik om die lewensomstandighede van mishandelde vroue en kinders te verbeter en om hulle te help om hul menswaardigheid te herwin. Hierdie ‘hart’ van die projek is waarom alles draai en dit is hier waar jy kan help.
Die koste verbonde aan 'n skouspel van hierdie omvang is fenominaal, en omdat die inkomste uit die kaartjieverkope net so aan die veilige huise oorhandig word, moet die geld êrens vandaan kom om die kostes te dek. Dit is hier waar borge en organisasies wat hul hande diep in hulle sakke druk, 'n groot rol speel.
Twee van die land se mooi mense wat almal graag altyd wil sien, is Brümilda van Rensburg (Egoli se Louwna) en ons eie Mnr. SA, Dieter Voigt wat deesdae Pasella-aanbieder is. Die twee sal as seremoniemeesters optree .
Topkunstenaars soos Tobi Jooste, George Longane (voorheen Dr Victor), On Que en Jill Middlekop (eks-Shine 4-lid en aktrise van Egoli) vorm deel van die skouspel wat jy tydens die funksie te wagte kan wees. Die kunstenaars glo in die projek en die meeste van hulle was ook bereid om hul dienste teen verlaagde pryse te verskaf om sodoende kostes te beperk. Middlekop was verlede jaar ook by die projek betrokke en sy het 'n liedjie Earth Angels geskryf wat tydens die gala-aand bekendgestel sal word. Opbrengs van die CD verkope sal ook aan die projek geskenk word.
Nog 'n rolspeler is Natasha Sutherland, bekende aktrise, nou skrywer, ma en eks-vrou van 'n superster, wat 'n groot rol in die veilige huise-projek speel. Sy en haar Big Heart Foundation, wat help om mishandelde vroue te bemagtig, vorm deel van die vooraf plan om die veilige huise te besoek en die inwoners te onderskraag en hulle te help om hul selfbeeld te verbeter.
Die 12 finaliste sal tydens die vertoning uitrustings dra deur verlede jaar se wenont-werper, Wilmari de Jager van Riversdal asook splinternuwe en unieke ontwerpe deur ses ontwerpers uit die Suid-Kaap. Een van hierdie ontwerpers sal ook dié aand as die Suid-Kaap se wenontwerper aangewys word. Isabel Niehaus, bekende moderedakteur sal as hoofbeoordelaar optree.
Gaste kry ook die geleentheid om versnaperings saam met wyn en sap te geniet en tydskrifte en geskenke saam huis toe te neem, en dit alles vir R150 per kaartjie.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket en tafels van 10 kan bespreek word deur hulle korportatiewe lyn by 011 340 8128 of 011 340 8475 te skakel.
Foto's: Denise Lloyd
.jpg)
Een van hierdie finaliste sal Saterdagaand tydens 'n extravaganza by die Pinnnacle Point Strand- en Gholflandgoed op Mosselbaai as Mej. Tuinroete en Klein-Karoo gekroon word. Kaartjies kan bespreek word by Computicket of by die Casino by 044 606 7777. Al die opbrengste van die kaartjies gaan vir die vier veilige huise in die Suid-Kaap. Die finaliste is (agter): Leandri du Randt (18) van Mosselbaai, Blanche Jacobs (23) van Oudtshoorn, Vuyiseka Koppies (23), Lillian Jonker (19) albei van Mosselbaai en Mercia Bauermeister (24) van Somerset-Wes. In die middel: Venessa Niklaus (21), Marizanne Visser (18) albei van George, Natalie Coerecious (19) van Mosselbaai, Gabrielle de Sausa (19) van Knysna, Stephnay Saayman (22) van George en Alexa Ziaprianos (18) van Mosselbaai. Heelvoor is Labaré van Tonder (22) van Barrydale.