Een van sy lirieke, 'Bonnie en Clyde', is ingesluit in Hettema se onlangsvrygestelde album, Rooiwynliefde.
Andries is vroeg vanjaar aangewys as een van die wenners in die Sanlam en LitNet liedjieskryfkompetisie, Sing'it (Knysna-Plett Herald, 1 Maart 2012).
Andries se 'Bonnie en Clyde' is in Februarie vanjaar deur die bekende Karen Zoid as haar persoonlike gunsteling gekies uit 1 600 inskrywings, waarna Zoid dit getoonset het en self gesing het as 'n meesleurende liefdeslied. Dié liedjie is een van die agt wenlirieke wat deur bekende sangers getoonset en opgeneem is in MP3-formaat en versprei is deur die internet.
"Toe die bekende kabaretkunstenaar en diva par excellence, Helena Hettema, 'Bonnie en Clyde' vir die eerste keer hoor, was sy absoluut mal daaroor. Sy het my onmiddelik gekontak en gesê sy sal dit baie graag opneem op haar nuwe CD, Rooiwynliefde, wat sy besig was om op te neem en waarvoor die finale liedjiekeuse toe reeds gemaak was.
Karen Zoid het goedgunstiglik ingestem dat Helena Bonnie en Clyde mag opneem en die bal is aan die rol gesit."
Andries is die geleentheid gebied om Helena Hettema die CD-bekendstelling van Rooiwynliefde in die Atterbury Teater in Pretoria by te woon op 30 September.
Hy vertel dat sy ervaring "ongelooflik" was. Hy het moeg teruggekeer na Knysna, maar dit was " 'n baie aangename soort moeg". "Watter ondervinding was dit om hierdie ongelooflike musikale reistog in twee dele te ervaar."
Andries vertel dat die eerste deel van die middagvertoning bestaan het uit 'n keurspel van Hettema se liedjies van haar CD's, insluitende haar passievolle vertolkings van bekende Brel- en Piaf-treffers en ander "pragtige nommers gesing in Afrikaans, Engels, Frans, Italiaans en Nederlands".
Roiwyn liefde is in die tweede deel van die program bekend gestel. Die album bevat 14 nuwe liedjies, wat Andries en Karen Zoid se 'Bonnie and Clyde' insluit. "Baie van die nuwe nommers kom uit Helena se eie pen, en daar is ook drie toonsettings van Suid-Afrikaanse digters. En daar is natuurlik die titelsnit, Rooiwynliefde, met musiek deur die befaamde pianis en komponis Christa Steyn, wat 'n rukkie gelede oorlede is," vertel Andries.
"Die vertoning het hopeloos te vinnig geëindig met Helena se vertolking van die baie bekende temalied van die televisiereeks, Sonkring. Helena het 'n pragtige nuwe verwerking gedoen met haar eie Afrikaanse lirieke saam met 'n Franse vertaling wat ek vir haar gedoen het," vertel 'n opgewonde en trotse Andries.
Ter afsluiting van die vertoning het Hettema almal wat 'n rol gespeel het in haar nuwe album na die verhoog genooi. "Dit was die grande finale, die kersie op die koek van 'n ongelooflike dag, vol trots, vreugde en emosie," sê Andries.
"Om saam op die verhoog te staan terwyl 400 dankbare en gelukkige mense Helena toejuig was ongelooflik."
Verskeie snitte van die nuwe album, insluitend die titelsnit en 'Bonnie en Clyde' word gereeld uitgesaai oor radiostasies soos RSG.
Intussen is Andries reeds volstoom besig om nuwe lirieke te skryf vir sangeres Maritza se nuwe Afrikaanse album wat by KKNK 2013 vrygestel gaan word.
Maritza was 'n legende in die Suid-Afrikaans musiekbedryf tussen die laat 1970's en vroeë 1990's en het onlangs teruggekeer na die musiekbedryf. Toe Andries verneem dat sy op soek was na lirieke het hy nie op hom laat wag nie, maar dadelik van sy woordskeppings na haar gestuur. Maritza het vinnig laat weet dat sy van Andries se lirieke wou gebruik.
"Hopelik praat ons weer by die KKNK 2013, wat weereens 'n besondere ondervinding gaan wees. Dit sal fantasties wees as Helena Hettema en Maritza altwee kan optree by die KKNK - ek hou styf duim vas. Helena het reeds vir my gesê sy sal baie graag die Rooiwynliefde-CD in Knysna en George wil bekend stel indien daar voldoende belangstelling sou wees," sê Andries.

Bruno Andries van Knysna se lirieke vir 'Bonnie and Clyde', getoonset deur Karen Zoid, word vertolk deur Helena Hettema op haar nuwe CD, Rooiwynliefde wat onlangs bekend gestel is.