Hy is so sterk dat hy swaar goeters opgetel het wat te swaar vir mense kon gewees het. Hy is so pienkgroen. Sy naam is Pingmama.
Sy habitat is 'n hok, ja, want daar's oorgenoeg kos vir hom in 'n hok.So, hy moet in 'n hok woon as sy vlerk stukkend breek." So lees 'n uittreksel uit Wolkland.
Carina Stander (37), digter, kunstenares en bekroonde joernalis van Plettenbergbaai se sesjarige seun Aden was amper vier toe hy vir die eerste keer begin praat het oor sy verbeeldingsvrou Nana en hul klomp kinders wat in ene Wolkland woon. Klaarblyklik beleef hy en sy gesin wonderlike avonture in 'n plek bevolk deur 'n trop migrerende dinosourusse, slim drake, selakante, gifpaddas, 'pruiksediere' en wat nog alles.
Stander vertel dat sy deur die jare dikwels Aden ('n Graad R leerder by Laerskool Plettenbergbaai) se storietjies oor Wolkland met 'n diktafoon opgeneem het, "sommerso terwyl hy sit en speel, of oor die telefoon met sy oupas en oumas kuier", vertel sy. Ander kere het sy, sy sêgoed teen haar Facebook-muur geplak. Die idee om al hierdie storietjies saam te vat in 'n opwindende kinderboek het homself voorgedoen in 2012, toe Stander en nege ander skrywers Die Orde van die Goue Pen deur die Cordis Trust toegeken is.
Die prys behels onder meer 'n publikasie-opsie en Stander het toe voorgestel dat sy die opskrywer van Adan se stories sal wees.
"Vir Wolkland het ek ongeveer vyftien uur van dié diktatofoniese opnames woord vir woord getranskribeer. Ek het slegs vertellings uit Aden se eerste vyf lewensjare gebruik. Om spesifiek te wees, die vroegste sin in die boek is op 27 maande gemaak en die laaste verhaal op vyf jaar en elf maande."
Volgens Stander het die uitgewersredakteur Francois Smith met die blink voorstel gekom om die volgorde van die vertellings so te rangskik dat dit 'n soort sikliese skeppingsverhaal vorm, bewoon deur die kleuterkind se vreemde skepsels. Hier en daar het Smith die woordvolgorde van 'n sin effens verander om die storie te laat vloei of die tydsverloop aangepas, maar dis al. "Dit was vir ons absoluut noodsaaklik dat dit Aden se oorspronklike vertellings moes wees, sy eie stories in sy eie woorde, sonder die euwels soos korrektheid of selfbewustheid."
Die grafiese ontwerper Theresa Wilds (wat onder meer vir National Geographic Kids werk) het Aden se kinderkuns, soos sy kleibeelde en tekeninge, gebruik en kreatief uitgelê in die boek. Die bekende skrywer Riana Scheepers was die letterkundige "sif", soos Stander dit stel.. Scheepers se kommentaar is dat sy "sprakeloos" gelaat is toe sy Aden se verhaal klaar gelees het. "Aden is 'n digter en 'n profeet. En dit sê ek nie ligtelik nie." Scheepers meen dat elke grootmens die boek ook moet lees: "Om hom en haar te herinner dat 'n kind belangriker dinge sien en dink en sê as grootmense."

Die pragtige kinderboek, Wolkland behoort ook deur grootmense gelees te word.
'Ons bring jou die nuutste Plettenbergbaai | Tuinroete nuus'