RUGBY NUUS - Eers as die eindfluitjie geblaas het is 'n rugbywedstryd verby. Dit is Saterdag 5 Augustus in Bloemfontein opnuut bewys toe die SWD Eagirls, teen die Cheetahs in die eindstryd van die vroueafdeling van die eerste divisie in Bloemfontein met een enkele punt verloor het.
Met net drie minute speeltyd oor het SWD Eagirls nog 19 - 15 voorgeloop. En toe kom die Cheetahs en druk 'n drie. Die eindtelling was 20 - 19.
Elize Arendse, afrigter van die SWD Eagirls, het Maandag 7 Augustus gesê dit was 'n harde wedstryd. Die Cheetahs het eerste punte aangeteken. "Ons het egter teruggeveg. Toe rustyd aanbreek was ons 14 - 10 voor."
In die tweede helfte het die SWD Eagirls weer 'n drie gaan druk. Ongelukkig het die SWD Eagirls in die laaste 10 minute twee geelkaarte gekry. "Dit het 'n rol gespeel. Ons berus daarby, maar ons moes dit nooit gekry het nie. Ons soek nie verskonings nie.
"Ons het eintlik die wedstryd 'gewen' alhoewel die eindtelling nie so sê nie."
Volgens haar is die span baie teleurgesteld en hartseer. "Die spelers het alles gegee."
Sy het gesê die span en afrigter-korps/bestuur het geleer uit die wedstryd. "Dit is dat jy voorbereid moet wees oor wat na jou kant toe kom."
Die span het vanjaar nege wedstryde in die reeks gespeel waarvan net twee verloor is. Beide was teen die Cheetahs.
In die eerste verloor teen die Cheetahs het SWD Eagirls met 0 - 40 die onderspit gedelf. Die Cheetahs was die gunstelinge vir Saterdag se wedstryd.
Vir die SWD Eagirls is die seisoen nou klaar. Die span sal egter beslis weer aanstaande jaar probeer. "Ons hou ons koppe hoog en laat dit nie sak nie. Ons is kampioene."
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het Dinsdag gesê die unie is verskriklik trots op die span gegewe wat hulle bereik het.
"Dit maak dit hartseer dat hulle die wedstryd in die laaste paar minute verloor het. Die spelers het egter met passie gespeel. Dat van hulle gehuil het na die wedstryd wys met watter passie hulle vir SWD gespeel het."
Tydens Saterdag se wedstryd het Jeronique Murphy, Yolande Sampson en Chante Jonck vir die SWD Eagirls agter die doellyn gaan kuier. Antonecia Hannies het met twee doelskoppe geslaag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’