KNYSNA NEWS - Knysna skuts was tydens die Kloppers Eden Jaggeweerskiet Ope goed verteenwoordig en plaaslike deelnemers het 'n bydrae tot die Eden-span se oorwinnings in hierdie interdistrikskompetisie gelewer.
Die Louvain-gasteplaas naby Oudtshoorn was verlede week gasheer vir die 136 skuts wat aan vanjaar se ope deelgeneem het.
Die gewilde jaarlikse jaggeweerskietkompetisie was in samewerking met Kloppers George, as hoofborg, aangebied.
Skuts is in verskeie jagposisies oor verskeie afstande op vier papier- en twee staalgong-bane getoets. Pryse en gelukkige trekkings ter waarde van R100 000 was op die spel.
Deelnemers het dit nie maklik gehad nie en hul deursettingsvermoë is te midde van warm en winderige toestande getoets.
Spanne wat aan die interdisriktskompetisie deelgeneem het, insluitende mans-, vroue- en junior-kategorieë, was Eden, Cape Winelands en Kaapstad.
In die mans-kategorie het Eden geseëvier. Cape Winelands en Kaapstad was onderskeidelik tweede en derde.
Eden het ook in die vroue-kategorie met goud weggestap terwyl Kaapstad tweede geëindig het. Onder die juniors het die Kaapstad-span eerste gekom met Eden kort op hulle hakke.
Die Eden-skuts het ook uitsonderlike individuele posisies behaal. Jacques du Plooy het goud verower terwyl Niaan Fourie die tweede podiumposisie geëis het. Junita van Zyl was vierde, Knysna se Christo Delport sesde en juniorskut Manus Moolman 12de. De Waal Nigrini het in 14de posisie geëindig, Renier van Greunen 17de en juniorskut Hans-Willem Moolman in 19de.
Pryse was in die verskeie kategorieë toegeken asook aan die skuts wat onder die top 10 van die dag geëindig het. Daar was ook verskeie gelukkige trekkings na verloop van verrigtinge gedoen. Die laaste trekking van die dag was vir 'n Sabatti Rover Inox .243 jaggeweer wat deur 'n juniorskut uit Beaufort-Wes gewen is.
Van links: Manus Moolman, Jacques du Plooy, Christo Delport (Knysna), Niaan Fourie en Leras van Zyl. Foto's: Verskaf
Van links: Junita van Zyl, Anita Butler, Marietha Moolman, Janine Nigrini en Zelda Delport.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'