KNYSNA NUUS - Skolederbies is meestal hard. Ongenaakbaar. En Saterdagoggend s'n tussen Hoërskool Knysna en Knysna Sekondêr het nie 'n aks afgewyk van daardie patroon nie.
Dis twee spanne het goed teen mekaar opgeweeg het, met nie een wat die ander oorheers het nie. Dit was 'n gelykopstryd tot laat in die helfte toe Knysna Sekondêr met hul akkurater skopwerk pale toe die wa deur die drif getrek het.
Albei spanne het met elke moontlike geleentheid met die bal aangeval, maar puik verdediging het talle belowende bewegings gestuit. Dis of van die manne die smaak uit hul teenstanders se monde wou duik.
Albei pakke voorspelers het mekaar ook goed in toom gehou.
Twee van die grootste uitblinkers was Leeroy Manual en Jeronimo Payle, wat as Knysna Sekondêr se speler van die wedstryd aangewys is.
Keano Arends het op losskakel vir Hoërskool Knysna met sy aanvallende spel geskitter. Hy het die verdedigers goed besig gehou.
Vir Knysna Sekondêr het Nkosinathi Mgwadlanyana 'n drie gedruk, terwyl Keagan Bennie met die twee strafskoppe en 'n doelskop suksesvol was.
Luran de Vries het Hoërskool Knysna se enigste punte met 'n drie in die hoekie aangeteken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’