KNYSNA NUUS - Van koekbestanddele tot haarfyn begrotings, en van kleurvolle temas tot kreatiewe tafelversierings - die gr. 11-verbruiker-studieleerders van Knysna Hoërskool het onlangs bewys dat daar baie meer in hul oonde bak as net koekbeslag.
As deel van hul praktiese kwartaal-assessering moes die leerders hul eie temapartytjies beplan en aanbied - 'n uitdaging wat nie net bakvernuf getoets het nie, maar ook hul organiseringsvermoë, kreatiwiteit én begrotingsbestuur.
Die opdrag het vereis dat leerders koeke bak en versier, uitnodigings ontwerp, tafels volgens 'n spesifieke tema versier en terselfdertyd streng binne 'n begroting bly. En dit alles met net drie weke tyd vir beplanning en voorbereiding.
Volgens verbruikerstudie-onder-wyser Debbie van Lill was die projek 'n groot sukses - selfs al het sommige leerders aanvanklik gevoel hul senuwees is meer geklits as die koekmengsel.
"Wat lekker is van die uitdaging, is dat dit vir hulle nuwe vaardig-hede aanleer," sê Van Lill. "Kinderpartytjies en troues is 'n ongelooflike mark wat leerders nou reeds kan betree om ekstra inkomste te verdien. Dit wakker ook entrepreneurskap aan."
Sy vertel dat sommige leerders die projek sonder enige huiwering aangepak het, terwyl ander vinnig ontdek het dat perfekte versiersuiker en tydsbestuur nie altyd hand aan hand loop nie.
Maar toe die laaste koek gesny en die laaste ballon opgeblaas is, het die harde werk duidelik vrugte afgewerp.
"Ons het dit baie geniet en gaan nou jaarliks hierdie projek aanpak," sê Van Lill. "Ons het reeds vir volgende jaar 'n nog groter uitstalling beplan, asook 'n vertoning wat daarmee gepaard gaan."
As dié jaar se kreatiewe uitstallings enigsins 'n aanduiding is, kan Knysna dalk binnekort spog met 'n nuwe geslag entrepreneurs wat net so gemaklik is met 'n klitser as met 'n sakrekenaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’