PROPERTY NEWS - Karin Krohn beantwoord graag die volgende vrae wat sy ontvang het van eienaars in deeltitelskemas.
Ons as eienaars het die gedragreëls van ons skema onlangs gewysig, en het terselfdertyd 'n boete klousule ook in die reëls ingebring, wat soos volg lees "boetes sal gehef word volgens die diskresie van die trustees".
Is dit korrek? Moet daar nie 'n spesifieke bedrag aan 'n spesifieke oortreding gekoppel word nie?
Ja, u is heeltemal korrek – bogenoemde reël is onredelik en sal nie deur die Ombudsdiens (CSOS) goedgekeur word nie. 'n Boete klousule moet die korrekte prosedure insluit en die skuldige party 'n geleentheid gun om sy/haar saak te stel, voordat 'n spesifieke boete vir die spesifieke oortreding gehef kan word.
Ek het 'n stoorkamer waarop ek eksklusiewe gebruik het maar wil dit graag aan 'n mede-eienaar verkoop wat nie 'n stoorkamer het nie – ons eksklusiewe gebruiksgebiede is in terme van die bestuursreëls geskep. Is dit toelaatbaar?
Nee, ongelukkig nie – net uitsluitlike gebruiksgebiede wat formeel geregistreer is in u naam kan verkoop word.
In u geval waar die stoorkamers ingevolge die bestuursreëls geskep is, mag hierdie areas nie verkoop word nie, want dit is steeds gemeenskaplike eiendom waarvan u net die eksklusiewe gebruik het.
Die regspersoon moet die bestuursreëls wysig om die spesifieke stoorkamer aan die mede-eienaar te allokeer.
Indien een van ons trustees nie 'n trusteevergadering kan bywoon nie, stuur hy altyd sy vriend om hom te verteenwoordig. Is dit toelaatbaar?
Nee, 'n trustee wat nie 'n trusteevergadering kan bywoon nie, kan nie iemand volmag gee hom by die vergadering te teenwoordig nie. Bestuursreël 7(7) van die Deeltitelbestuurswet laat egter toe dat alle trustees 'n tydelike plaasvervangende trustee mag aanstel in die afwesigheid van 'n trustee.
Is 'n volmag aanvaarbaar, indien die betrokke eienaar net 'n e-pos aan die voorsitter stuur?
Ingevolge Bestuursreël 20(5) word daar vereis dat Vorm C volledig ingevul word en onderteken word – indien die e-pos nie onderteken is nie, kan die volmag nie in ag geneem word nie.
Sou die eienaar egter al die inligting wat Vorm C vereis verskaf met 'n elektroniese handtekening, sien ek geen rede waarom die volmag nie aanvaar kan word nie.
Dit moet in ag geneem word dat nie alle eienaars toegang het tot skandeerders nie en om deesdae 'n kworum by 'n vergadering te behaal is 'n prestasie op sy eie.
Kan 'n eienaar 'n algemene jaarvergadering via SKYPE bywoon?
Ja, inderdaad – Bestuursreël 17(10) & (11) laat die nie-fisiese deelname van eienaars toe.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels, huiseienaarsverenigings of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'