Gallery
MOTORNUUS - Die afgelope naweek is die Suid-Kaap se grootste ovaalbaanresies, die Richard Griessen Repairs Klein-Karoo-kampioenskappe, vir die 28ste jaar op Oudtshoorn aangebied.
Sowat 126 renmotors het in 13 klasse deelgeneem en in al die klasse was daar hope aksie.
Die vonke het behoorlik gespat in die 1660 Hooligans-klas. Daar was nie minder as 24 inskrywings nie en die klerk van die baan, Riaan Keyser, het besluit om almal saam te laat deelneem. Op 'n stadium was daar nie minder nie as 13 stukkende motors op die binneveld.
Burger van der Westhuizen, die jong jaer van Oudtshoorn, het almal se monde laat oophang met sy vertoning in die 1660-klas met sy geleende CMS Golf. Hy het tweede geëindig in die tweede uitdun, die derde uitdun gewen van heel agter, en die finaal skitterend in die laaste draai gewen. Hy is met 'n asemrowende vertoning by die voorloper, op daai stadium Tersius van Tonder, verby deur net 'n sekonde later op die remme te klim. Van der Westhuizen het dan ook die Bestuurder van die Dag-toekenning ontvang.
Die gemodifiseerde V8-klas het ook vir hope aksie gesorg. Hier was die slagting byna net so groot. Een van die groot name wat in die slag gebly het was Bennie Greyling van George. Greyling het sy Chev teen die muur beskadig en sy motor se agtervlek het gebreek. Met geen traksie op die agterwiele nie, het hy besluit om sy motor op die sleepwa te laai. Dit was 'n groot teleurstelling. Die klas is op skitterende wyse deur Bennie de Bruyn van George met sy Chev gewen. De Bruyn het heeldag bestendig gejaag en kan trots wees op sy wen.
Die 2.1-klas het ook vir heelwat opwinding gesorg. Hier was Burger van der Westhuizen weer hard aan die baklei om ook dié klas syne te maak, maar dié slag het sy laaste draai-aanval, soos in die 1660 klas, sy tol geëis. Hy het weereens sy laat-rem tegniek probeer om by Brennon Green verby te kom, maar dit so 'n bietjie oordoen en het sy motor getol. Dit kon net sowel gewerk het en 'n dubbele wen gewees het. Green het die eerste plek in sy vinnige Opel Corsa verower.
Die Hitsmotor-klas was ook vol aksie. Tiaan Louw met sy pragtige en vinnige Opel Tiga het in die finaal skouspelagtig gejaag en die klas gewen.
In die Heavy Metal-klas was dit net een naam wat die koppe laat draai het - William Steyn van die George-motorklub in sy vinnige BMW.
Steyn was heeldag tussen die voorlopers. Hy het die derde uitdun pragtig gewen en het in posisie nommer een in die finaal weggetrek. Na die eerste draai was hy voor en het ondanks kwaai druk van agter gefokus gebly en seker gemaak sy BMW se foto pryk op volgende jaar se Heavy Metal-volstruiseier.
In die Muggiemotor-klas (Midget) was dinge ook warm in klas A en B. Die vinnigste motor in klas A, dié van Schalk Swart, het volgens my horlosie in 17.7 sek om die baan gejaag. Glo my, dis vinnig. Swart het dié klas gewen.
Die ander klasse het ook heelwat aksie gehad. Daar was karre met af wiele, motors wat teen die muur beland het, maar gelukkig met geen beserings nie.
Die ovaalbaangemeenskap wens vir Dirk van der Westhuizen geluk met nog 'n suksesvolle byeenkoms wat hy en sy span gereël het. Dankie ook aan Richard Griessen Repairs wat al vir 21 jaar die byeenkoms borg.
Sien julle volgende jaar weer op Oudtshoorn vir nog 'n aksiebelaaide Klein-Karoo-kampioenskappe.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa en Karoo nuus'