Die sogenaamde "hot hatch" ofte wel blitsbuks wat ingelui is met die eerste Golf GTi, bly egter die kroon van die gewildste segment met veral die jonger generasie as teikenmark.
Elke vervaardiger ding deesdae in hierdie kategorie mee met motors wat só tegnologies gevorder het dat hul met reg in die droomkategorie van supermotors kan meeding.
Ons neem 'n paar van die warm buksies onder hande en vergelyk hul met van ons hedendaag-se fliek-aksiehelde. Watter ander blitsbuksie sou jy by jou aksieheld uit die rolprentwêreld wou sien?
Mercedes-Benz A45 AMG 4Matic - R 604 117.
Die 'baba Merc' uit Stuttgart is die kleinste model in Mercedes Benz se steeds groeiende weelde-reeks. Tog, as die goedkoopste AMG- missiel is hy egter die vinnigste, die mees luidrugtige, die brutaalste asook die duurste van al die blitsbukse wat ons al getoets het. In ons aksieheld-span sal hy Jason Statham se karakter in die Transporter of The Expendables rolprente wees - ysterklip-hard, supervinnig en wildewragtig woes in elke onderonsie!
Die witjasse in Affalterbach by AMG het hul towerkragte gebruik en 'n verbysterende 265 kW se piek kraglewering en 450 Nm wringkrag uit Mercedes se 2,0 liter 4-prop-turbo aangejaagde enjin uitgewurg! (Vergelyk dit byvoorbeeld met die Porsche Cayman S se 3,4 liter plat-ses enjin wat 239kW/370Nm lewer.)
Verder kom die baba AMG- vlamgat met vierwielaandrywing wat bydra tot verbysterende greep vir kookwater verrigting. Die 0-100 k/u lopie neem 'n verstommende 4,6 sekondes met topspoed wat elektronies tot 250 k/u beperk word - goeie genade, dit is in die arena van supermotors! Soos 'n rasegte sportmotor is die A45AMG maar aan die harde kant geveer en kan die rit soms effe stamperig raak. Hantering deur skerp vinnige draaie is minder sekuur met die 4Matic wat dalk die skuld moet kry vir die bietjie stuurtraagheid.
Die klein AMG se pragtige voorkoms en sportiewe afgewerkte netjiese binneruim tel egter weer in sy guns. Die pragtige sportsitplek-ke domineer die binneruim en tog pas dit perfek in die moderne dog luukse kajuit. Ons toetsmodel was met etlike opsionele ekstras toegerus wat die aankoopprys met meer as R100 000 sal laat styg!
As bruto krag met plofbare versnelling en 'n knallende uitlaatstelsel wat sy eie kakofonie om jou ore speel jou bloed laat bruis, dan is Mercedes se pragtige A45 AMG net die vuurwa vir jou. Begin solank jou bankbestuurder voorberei vir daardie allemintige prys - veral as jy jou A45 verder wil opdollie met begeerlikhede vanaf die lys peperduur opsionele ekstras!

Glad nie die sagte opsie binne nie - die motor het superspiere binne en buite.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'