RHEENENDAL NUUS - Dit is 'n tragedie wat diep wonde gelaat het - wonde wat selfs 15 jaar later nog nie genees het nie. Vir die ouers wat hul kinders in die Rheenendal-bustragedie verloor het, voel die gebeure van daardie noodlottige dag steeds vars. Die verlies van 15 lewens is Sondag 23 Augustus tydens die 15de herdenking in Rheenendal onthou.
Die tragedie het op 24 Augustus 2011 plaasgevind toe 'n African Express Tata-skoolbus, waarin leerders van Laerskool Rheenendal onderweg skool toe was, by Kasat se Drift buite Knysna afgestort het. Veertien leerders en die 65-jarige busbestuurder, Tiaan Colin Payle, het gesterf.
Knysna-Plett Herald het tydens die herdenking met verskeie moeders gepraat wie se lewens daardie dag vir altyd verander is. Sibilla Mello, wat twee kinders verloor het, sê sy is steeds gebroke. "Ek is nog stukkend. Vir my voel dit asof dit net laas week gebeur het."
Michelle Freiburg en Joslin Mello deel dieselfde gevoel en sê hulle glo nie dat hulle ooit volkome oor die verlies van hul kinders sal kom nie. Vir Pauline Figeland, wat al drie haar kinders verloor het, was die herdenking te pynlik om by te woon. Sy het haar suster in haar plek gestuur.
Kathleen Wessels het vertel dat sy die hele naweek emosioneel was, maar haarself sterk moes hou vir die ander moeders. Sy het haar dogter, Rayleen, en haar nefie, Cheswin Freiburg, verloor. Die twee is in die Pacaltsdorp-begraafplaas in Yorkstraat ter ruste gelê. Wessels sê sy mis haar kind elke dag en voel dat die families van die Rheenendal 15 dikwels vergeet word.
"Dit voel asof niemand regtig oor die mammies van die Rheenendal 15 bekommerd is nie. Dit is hartseer dat selfs die munisipaliteite en Laerskool Rheenendal nie op hierdie tyd aan ons dink nie," het sy gesê.
Ondersteuning vir bedroefde ouers
Te midde van die pyn het lede van die Compassionate Friends-inisiatief Sondag ondersteuning aan die moeders en families gebied. Die organisasie ondersteun ouers, veral moeders, wat 'n kind aan die dood afgestaan het. Wessels, wat sedert 2012 'n lid is, sê die organisasie doen wonders en is broodnodig in die gemeenskap.
Hoewel Compassionate Friends nie 'n permanente fasiliteit het nie, is die lede in verskeie woonbuurte in George gevestig en bied hulle steeds ondersteuning aan bedroefde families. Vir Wessels bly geloof en die ondersteuning van ander ouers 'n bron van krag.
"Die Here het ons as ouers van die kinders vir 15 jaar gedra. Ek weet Hy gaan ons verder dra."
Vyftien jaar later bly die pyn en gemis 'n daaglikse werklikheid vir die families -'n verlies waarmee hulle steeds, een dag op 'n slag, leer saamleef.