KNYSNA NUUS - Concordia Primêr het sy jaarlikse lootjieprojek op 'n feestelike noot afgesluit met die aankondiging van die wenners tydens 'n byeenkoms by die skool, net voor die skoolvakansie.
O'Neal Nankoo, wat die projek bestuur het, het as seremoniemeester opgetree en die onderwysers en wenners met sy gevatte kwinkslae laat skaterlag.
Die projek het altesaam R25 520 opgelewer uit die verkoop van 259 boekies, elk met 10 kaartjies teen R10 een. Ná onkostes van R5 400 het die skool 'n wins van R20 120 aangeteken.
Die geld sal aangewend word om gehaltehulpbronne vir Concordia aan te koop wat die leerders binne sowel as buite die klaskamer kan benut.
Die leerders het gesamentlik 117 boekies verkoop, terwyl die onderwysers vir 80 boekies verantwoordelik was. Die gr. 6-klas het die meeste boekies verkoop. Ashton Marais (gr. 4) het veral uitgestaan deur 'n indrukwekkende 21 boekies op sy eie te verkoop.
Onder die onderwysers was Nankoo self die voorste verkoper met 17 boekies. Chanté Muller was kort op sy hakke met 14 boekies.
Veertien individuele wenners is ook tydens 'n gelukstrekking aangewys. Die pryse het gewissel van geskenkbewyse, braaihout, vleispakke en rooiwyn tot 'n naweekwegbreek ter waarde van R1 800.
Met kaartjies teen slegs R10 elk was daar heelwat waarde vir geld. Die goedkoopste geskenkbewys alleen was R100 werd.
Nankoo het die inwoners en borge van Knysna vir hul ruim bydraes en ondersteuning bedank, wat gehelp het om die projek 'n groot sukses te maak.
"Knysna se hart het weer warm geklop," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’