KNYSNA NUUS - 'n Enkelma van Hornlee, Denise Williams, leef al vier jaar in 'n munisipale huis onder haglike omstandighede.
Water dring voortdurend deur die vloer en mure van die huis, wat tot aanhoudende vog en die vorming van skadelike swart skimmel lei. Haar tweejarige dogtertjie woon saam met haar in dié omstandighede.
Die situasie het onlangs verder versleg nadat Williams 'n beroerte gehad het en nou aan die linkerkant van haar liggaam verlam is.
Williams word tans versorg deur haar ma, Tina Nel, wat ook namens haar optree in pogings om hulp te kry. Volgens Nel het die gesin verskeie kere by die Knysna-munisipaliteit aangeklop om hulp, maar was daar tot dusver geen daadwerklike optrede of langtermynoplossing nie.
Die Demokratiese Alliansie (DA), onder leiding van Helen Zille, het intussen die huis besoek en oorweeg regstappe teen die munisipaliteit. Volgens DA-woordvoerder Ryan Smith is die toestand van die huis 'n direkte gevolg van nalatigheid en swak bouwerk.
Die Knysna-munisipaliteit ontken egter enige nalatigheid. In 'n amptelike verklaring sê hulle dat die probleem eers in Mei vanjaar onder hul aandag gebring is, en dat daar geen klagtes tussen 2021, toe die eiendom oorgedra is, en daardie datum ontvang is nie.
Hulle beweer dat 'n terreinbesoek ná die klagte uitgevoer is, maar dat 'n behoorlike inspeksie nie moontlik was nie weens 'n oorgroeide erf. Die bewoner is glo versoek om die terrein skoon te maak sodat verdere assessering kon plaasvind.
Nel bevraagteken dié verwagting: "Hoe kan Denise verantwoordelik gehou word om die terrein skoon te maak as sy nie eens na haarself kan omsien nie?"
Nel voeg by dat Williams nooit 'n titelakte ontvang het nie en dat die eiendom dus steeds aan die munisipaliteit behoort, wat volgens haar die verantwoordelikheid vir instandhouding dra.
Nel het verder vertel dat die oorgroeide plante en bossies die water absorbeer en verhoed dat méér water in die woning insypel. "Denise het al baie kere die muf van die mure afgewas en daar was al baie keer skoon gemaak rondom die huis. Dit lyk asof, hoe meer daar skoongemaak word, hoe erger is die nattigheid."
Denise Williams met haar tweejarige dogtertjie, Tatum. Foto: Rozano Alie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’