LEWENSSTYL NUUS - Almal weet min slaap is rampspoedig vir die humeur.
Onvoldoende rus het veel meer gevolge as net versteurde harmonie in die huis, veral nou tydens inperking en boonop met die griepseisoen op hande.
Geheue, konsentrasievermoë, bloeddruk, bloedsuiker, balans en hartgesondheid is ’n paar van die dinge wat ly. Die immuunstelsel wat nou ons grootste wapen teen siekte is, spring ongelukkig ook nie vry nie.
Alle mense het nie ewe veel slaap nodig nie, maar kenners aanvaar ’n gemiddeld van sewe ure per nag as maatstaf. Gedurende die rustyd herstel die liggaam chemiese balanse wat uit ewewig raak deur die dag. Die brein gebruik die tyd om nuwe senuweepaaie te bou en emosies te verwerk.
In die immuunstelsel gebeur daar ook heelwat tydens slaap. Een van die belangrikste daarvan is die vervaardiging van ’n anti-inflammatoriese groep proteïene wat sitokiene genoem word. Daarmee beveg die liggaam bakterieë en virusse - iets wat nou en in die komende maande uiters noodsaaklik is.
Met fisiese aktiwiteit wat afgeneem het in grendeltyd, het die verteringstelsel ook alle hulp nodig om die liggaam gesond te hou. Die twee hormone wat gevoelens van honger en versadiging beheer raak heeltemal deurmekaar sonder voldoende slaap. Die een wat eetlus stimuleer styg terwyl die ander een val, wat veroorsaak dat die persoon gedurig honger voel, aanhoudend peusel en uiteindelik gewig optel. Wanneer dié twee hormone nie in balans is nie, word meer insulien as nodig na ’n maaltyd afgeskei. Insulien beheer die hoeveelheid bloedsuiker. Hoër insulienvlakke verhoog die risiko vir tipe 2 diabetes.
Slaap is dus nie ’n luukse nie, dis noodsaaklik vir fisiese gesondheid.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'