Update
TUINROETE NUUS - Twee spelers van die Evergreens-rugbyklub was Vrydagoggend, 5 Mei, in ‘n ongeluk op die N2 betrokke.
Die voorval, waarin drie vragmotors en ‘n bakkie betrokke was, het tussen Sedgefield en Wilderness naby die Swartvlei-afdraai plaasgevind. Geen sterftes is aangemeld nie.
Cobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het vanoggend bevestig die twee spelers, Envir Prins (kaptein en stut) en Sean Booysen (senter) was in die ongeluk betrokke. Prins is in die hospitaal opgeneem en buite gevaar. Booysen het nie ernstige beserings opgedoen nie.
Carelse het vanoggend na die ongeluk per telefoon met Prins gesels. “Hy is buite gevaar en het net baie pyn,” het Carelse gesê.
Evergreens speel môre teen Barbarians van Mosselbaai. In die stadium is dit nie duidelik hoe dit die spelers raak nie en daar is nog nie besluit oor die spankeuse vir die wedstryd nie.
Die N2 was vanoggend vir ure gesluit en groot verkeersvertragings is veroorsaak weens olie en diesel wat op die pad tydens die ongeluk gestort het. Die pad is weer oopgestel en die toneel opgeruim.
Die presiese oorsaak van die ongeluk moet nog bevestig word, maar volgens Jandré Bakker, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, was drie van die voertuie onderweg in die rigting na Knysna en die ander een het in die rigting van George gery.
Vorige artikels:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’