GEORGE NUUS - 'n Ortopeed van George-hospitaal, Dr. Renier Greyling, het Saterdag (17 Maart) na 'n kort siekbed gesterf.
Greyling was bekend vir sy bekwaamheid in sy beroep en sy passie vir sportbeserings.
Hy was ook die spandokter van die SWD Arende-rugbyspan vir die laaste 14 jaar.
Volgens Rynhard van As, die SWD-arende se afrigter, is Greyling 'n paar weke gelede gehospitaliseer nadat hy 'n moontlike virusinfeksie opgedoen het. Greyling is uiteindelik by die Aurora-hospitaal in Port Elizabeth versorg, waar hy Saterdagoggend gesterf het.
"Ons het nou saam gewerk, hy was baie professioneel, 'n ware staatmaker wat altyd tyd inruim om mense te help. Niks was vir hom te veel nie. Hy was die enigste sportgeneeskundige dokter in die streek," het Van As gesê.
Van As is eers as rugbyspeler deur Greyling behandel, voor hy as spanbestuurder en later as afrigter saam met hom gewerk het.
Medelye het op sosiale media ingestroom nadat die nuus van sy dood rugbaar geword het. Sy kollegas en pasiënte beskryf hom as iemand met 'n vrolike, grappige persoonlikheid en 'n kenner op sy gebied.
"Dit is 'n groot verlies in die ortopediese area," het Hester Julyan geskryf. Tanya Gertze bedank Greyling vir sy aandeel in haar seun se welsyn: "Rus in vrede my liewe dr Greyling jy sal gemis word ..... ons sal jou altyd onthou, jou vriendelike geaardheid en Keagan sal altyd dankbaar wees vir die operasie wat jy uitgevoer het. Ek het jou vertrou met die welsyn van my seun se rugby-toekoms."
Woordvoerder van George-hospitaal, Bianca Carls, het gesê Greyling was jare lank deel van die ortopediese span, altyd gereed met 'n glimlag en 'n grappie. "Hy sal deur sy familie en vriende gemis word, hou hulle in jul gebede en gedagtes gedurende hierdie moeilike tyd."
'n Begrafnisdiens sal op Woensdag 21 Maart om 11:00 by die Nederduits Hervormde Kerk Outeniqua (hoek van Meyer- en Derdestraat) gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'