TUINROETE | HESSEQUA | KAROO NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se 89 gr. 12-leerders het verlede Maandag teruggekeer klas toe en hul gewone roetines moeiteloos voortgesit ondanks die streng veiligheidsmaatreëls wat geïmplementeer is om die koronavirus hok te slaan.
Skoolhoof, André Latsky, was vol lof vir die matrikulante se positiewe gesindheid en samewerking in dié verband:
“Ons seuns is gefokus en gee hul samewerking in die klasse sowel as die koshuis. Ek is trots op hierdie jong manne wat nie hulself jammer kry nie en die Covid-19-uitdagings aanvaar en steeds met entoesiasme na moontlike hoogtepunte van hul laaste skooljaar uitsien.”
Onderrig word tans soggens en namiddae by dié skool aangebied om soveel as moontlik skoolwerk te dek wat weens die inperkingsmaatreëls verlore gegaan het.
Alhoewel dié leerders tans die eksklusiewe aandag van die personeel asook die uitsluitlike gebruik van die skool se fasiliteite geniet, sien hulle ook uit na die koms van hul gr. 8 tot 11-broers. Intussen is die rugbyvelde lowergroen en jeuk die manne om die rugbyballe rond te gooi.
Die Oakdale-matrieks het ook Woensdag hul matriekbaadjies met groot opgewondenheid ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'