Gallery Video
TUINROETE NUUS & VIDEO - Drie talentvolle musikante het uitsonderlik presteer tydens die afgelope Suid-Afrikaanse kampioenskap van die uitvoerende kunste (Sacopa) wat van 30 September tot 8 Oktober in Rustenburg gehou is.
As alles volgens plan verloop mag 'n paar Suid-Kaap-sterre dalk by die wêreldkampioenskap in Los Angeles blink.
Die jongste uitvoerende kunstenaar, Maja Snyman (15), se plek is egter verseker met 'n ten volle betaalde reis vir haar deelname aan die WCOPA in LA volgende jaar van 24 Julie tot 6 Augustus.
Hierdie vyftienjarige violis en pianis van Glentana, wat by McKinlay Reid International Academy in George skool gaan, is gekies as die algehele junior wenner oor al vyf kategorieë (dans, drama, instrumentaal, modelwerk, vokaal). Sy is ook die wenner van die instrumentale afdeling vir juniors.
Die sanger en liedjieskrywer, Christo Esterhuizen (31), is die algehele senior wenner vir die vokale afdeling (mans en vroue), asook die wenner van die vokale afdeling vir senior mans.
Die Pacaltsdorper, Veronique Ferndale (35), is gekroon as die wenner van die vokale afdeling vir senior vroue.
Ander uitblinkers sluit in Brandon Swart (24) van George, Anuchka Henning (26) van Oudtshoorn, Arancha Fortuin (26) van Sedgefield, Romé van Drutten (16) van Riversdal, Sasha-Mari Grobler (16) en haar sussie Wanya Grobler (10) van Stilbaai, Mieke Clee Matthee (18) van Stilbaai, Anjanke van Wyk (18) van Stilbaai, Dané Westcott (10) van Stilbaai, Nea-Lize Routenbach (11) van Stilbaai, Uné van Zyl (32), 'n dansonnie van Knysna, met haar leerders: Katelyn Hofmann (12), Izabella Belshcer (12), Chantelle Krige (17), Lomso Xokozela (13), en laastens Abby Erasmus (24) van Knysna.
"In ag genome dat sowat 3 000 inskrywings vir die kompetisie ontvang is, met ongeveer 17 000 verhoogitems, is hierdie 'n uitstekende oes vanuit ons distrik," het Annerie Snyman, een van Sacapo se streeksdirekteure vir die Tuinroete, gesê.
VIDEO: Christo Esterhuizen (31), 'n Sacopa-verhoogster van George
Christo Esterhuizen (31), is die algehele senior wenner vir die vokale afdeling (mans en vroue), asook die wenner van die vokale afdeling vir senior mans.
Foto: Michelle Pienaar
Vanuit die Tuinroete-omgewing is 11 deelnemers gekies om deel te neem aan die wêreldkampioenskap in Los Angeles, waarvan 10 hul eie befondsing of 'n borgskap moet bekom. Kostes beloop ongeveer R120 000 per deelnemer.
Vir meer inligting kontak Elmarie Grobler (streeksdirekteur) by 082 496 2842 of Karen Kretschmer (agent) by 073 056 0662.
Ure se oefen
Na aanleiding van 'n vraag oor haar groot prestasie, het Maja gesê dit is 'n ongelooflike moeilike kompetisie om te wen, omdat daar soveel items is en vyf verskillende uitvoerende kunsvorms met mekaar meeding.
"Dit is haar vierde jaar van deelname en sy het hierdie jaar baie hard gewerk en met 'n kombinasie van baie ure se oefen, tegniese uitdagende items en deursettingsvermoë, het sy dit reggekry om met die groot prys weg te stap," het Annerie Snyman gesê. Maja se boodskap aan ander is om in jouself te bly glo: "Bly gemotiveerd en as jy iets wil bereik, gaan daarvoor met alles wat jy het, terwyl jy steeds nederig bly."
FOTOGALERY: Talentvolle musikante by Sacopa
Christo is die laaste paar jaar voltyds musikant, nadat hy vir jare as 'n beplanner en projekbestuurder in die petro-chemiese bedryf gewerk het. Hy beskryf dié wen-ervaring as een van die wonderlikste gevoelens van sy lewe.
"Ek het nie geweet waarvoor ek myself inlaat nie. My doel was net om die span te maak vir die wêreldkampioenskap - om in LA te kan optree," het hy gesê.
Annerie Snyman geniet haar rol as talentsoeker - sy is immers die een wat Christo oortuig het om deel te neem: "Ek het 'n passie om talent raak te sien en vir mense kanale te gee waardeur hulle dit kan ontwikkel.
Ek hou daarvan om te sien hoe hulle blom wanneer die geleentheid daar is. Sacopa is 'n baie veilige platform waar mense hulle talente kan uitleef sonder om gekritiseer en afgekraak te word. Ons elkeen glo tog dat ons tot iets wonderliks in staat is, ons moet dit net ontdek."
Maja Snyman (15) van Glentana is gekies as die algehele Junior wenner oor al vyf kategorieë (dans, drama, instrumentaal, omodelwerk, vokaal). Sy is ook die wenner van die instrumentale afdeling vir juniors.
Prestasies uit die streek
Maja Snyman (15), Glentana: 2 silwer (vokaal), 4 goud (klavier) en 5 goud (viool). Twee toekennings: Overall Trophy Award for Instrumentals, Junior; Junior Grand Champion Award.
Christo Estherhuizen (31), George: 3 silwer, 3 goud (vokaal). Twee toeken-nings: Grand Champion Vocalist (mans en vroue); Male Vocalist over 24 Overall Trophy.
Veronique Ferndale (35), George: 3 goud (vokaal). Toekenning: Female Vocalist over 24 Overall Trophy.
Brandon Swart (24), George: 1 goud (instrumentaal).
Anuchka Henning (26), Oudtshoorn: 2 goud, 1 silwer (vokaal).
Arancha Fortuin (26), Sedgefield: 3 brons (vokaal).
Romé van Drutten (16), Riversdal:
Sasha-Mari Grobler (16), Stilbaai: 2 goud (dans), 1 silwer en 1 brons (sang), 1 goud (drama).
Wanya Grobler (10), Stilbaai: 1 goud en 1 silwer (dans), 1 silwer (modelwerk).
Mieke Clee Matthee (18), Stilbaai: 3 goud en 3 silwer (modelwerk), 1 goud (drama).
Anjanke van Wyk (18), Stilbaai: 2 silwer en 2 brons (dans).
Dané Westcott (10), Stilbaai: 2 goud en 1 brons (dans).
Nea-Lize Routenbach (11), Stilbaai: 1 goud (dans) en 1 silwer (modelwerk).
Uné van Zyl (32), Knysna: 3 silwer en twee brons (dans).
Katelyn Hofmann (12), Knysna: 3 silwer en twee brons (dans).
Izabella Belshcer (12), Knysna: 3 silwer en twee brons (dans).
Chantelle Krige (17), Knysna: 3 silwer en twee brons (dans).
Lomso Xokozela (13), Knysna: 3 silwer en twee brons (dans).
Abby Erasmus (24), Knysna: 1 silwer en 1 brons (dans).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'