KNYSNA NUUS - Volgens die Suid-Kaap Inisiatief vir Grondeienaars (SCLI), is die Suid-Kaap midde-in 'n oorlog teen 'n indringerplant wat plaaslike riviere bedreig.
"Hoewel die indringer-plant, Lantana camara (Verbenaceae), al voorheen in die Suid-Kaap opgemerk is, oorgroei dit deesdae feitlik elke rivierloop tussen Mosselbaai en Knysna," sê Cobus Meiring van die SCLI.
Lantana kan maklik uitgeken word aan sy aantreklike veelkleurige blomme. Volgens Meiring is dié indringerplant aanvanklik relatief maklik om onder beheer te hou, maar op 'n sekere stadium begin dit heeltemal handuit ruk.
"Dit volg 'n tipiese patroon van aanvanklike latente verspreiding voordat dit aggressief begin versprei en die landskap begin oorheers, veral waar klimaatstoestande gunstig is daarvoor, byvoorbeeld in die Suid-Kaap se Tuinroete met sy redelike hoë reënval en gematigde temperature," benadruk hy.
Meiring sê namate ontwikkeling en landbou toeneem in die Tuinroete, is die Suid-Kaap se rivierlope en diep valleie van die laaste plekke wat kan dien as bewaringskorridors vir die oorlewing van inheemse biodiversiteit.
"In plekke soos Wildernis het bewaringsbewuste grond-eienaars begin om op eie stoom rivierlope skoon te kap van Lantana en hulle onbaatsugtige werk maak beslis 'n groot verskil aan die omgewing," sê Meiring.
“Die Suid-Kaap se rivierlope en diep valleie is van die laaste plekke wat kan dien as bewaringskorridors vir die oorlewing van inheemse biodiversiteit namate die Tuinroete toenemend aan ontwikkeling en landbou onderwerp word. SCLI, in samewerking met meer as 75 grondeienaars in die Groot Brak, Kaaimans, Touw, Goukamma en Knysna riviere het al bykans 3 000 hektaar indringerplante skoongemaak sedert 2019,” sê Meiring.
“‘n Beduidende aantal probleemplante in Suid-Afrika is dekades gelede al die land ingebring van regoor die wêreld deur onkundige mense wie totaal onbewus was van dié plante se weergalose vermoë om enige landskap oor te neem ten koste van inheemse plante wat nie kan meeding teen die aggressiewe groeiwyse en verspreiding van indringerplante nie.”
“Indringerplante het geen natuurlike vyande wat hulle groei en voortplanting inhibeer nie. Dié plante volg ‘n tipiese patroon van aanvanklike latente verspreiding voordat dit aggressief begin versprei en die landskap begin oorheers, veral waar klimaatstoestande gunstig is daarvoor, soos byvoorbeeld in die Suid-Kaap se Tuinroete met sy redelike hoë reënval en gematigde temperature,” benadruk Meiring.
Bewaringsgroepe in Wildernis het begin om rivierlope wat deur digte stande Lantana toegegroei is, skoon te kap. Foto: Cobus Meiring, SCLI
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'