TUINROETE DISTRIK NUUS - Edenfm, met 188 000 luisteraars, het in hulle kategorie 41 radiostasies uitgestof as die gemeenskapsradiostasie met die meeste luisteraars in die Wes-Kaap.
Nie net het die stasie provinsiaal presteer nie, maar hulle is boonop onder die topdrie gemeenskapsradiostasies onder 263 landwyd. Hierdie inligting is in die Broadcasting Research Council of South Africa se nuutste publikasie bekendgemaak.
Die stasiebestuurder, Morné Petersen, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die personeel is baie opgewonde oor die aankondiging. "Ons het dit slegs te danke aan 'n besonder toegewyde span en uiters lojale luisteraars." Edenfm is in 2003 gestig en is 'n nie-winsgewende organisasie.
Wat die radiostasie se rol tydens die nasionale inperking betref, vertel Petersen dat luisteraars allerweë die grootste waardering teenoor hulle uitspreek. "Die luisteraars sê ons hou hulle aan die gang in hierdie tyd. Hulle geniet nie net die musiek wat hulle terugneem na die ou dae en stories wat sorg vir 'n bietjie lekker lag nie, maar hulle beskryf ons tans as 'n companion in 'n moeilike tyd."
Petersen sê ook dat hulle seker maak dat hulle die jongste inligting oor die Covid-19-pandemie met hulle luisteraars deel. "Ons gesels oor die moets en moenie, gee inligting oor wat die munisipaliteit mee besig is ensovoorts."
Volgens Petersen se verduideliking oor wat Edenfm sedert die inperking aangepak het om hulle luisteraars beter te dien, definieer dit gemeenskapsradio op sy beste. "Aangesien mense nie tans kerkbyeenkomste kan bywoon nie, bied ons Sondae twee ure vir verskillende kerke aan om radiodienste te hou. Dit beteken baie vir ons luisteraars. Ons help ook met opvoedkundige programme, want 70% tot 80% van ons mense in die landelike gebiede het nie toegang tot data nie." Kurrikulum-adviseurs het aanboord gekom om lesse aan te bied en veral matrieks vind volgens Petersen hierby baat.
Hy noem ook dat 'n groep sielkundiges betrokke by 'n inisiatief genaamd Klein Karoo Connect, gelei deur Hans van der Veen, praatjies aanbied wat luisteraars help om die emosionele las wat hulle tans ervaar te verlig.
Aanbieders Sebastian Coledridge en Ruwayne Wilson is deel van die Edenfm-span wat 188 000 luisteraars vermaak én ingelig hou.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'