VERKIESINGSNUUS - "Icosa wil aan elke kieser wat hul stem uitgebring het vir die party in die 2019-verkiesing baie dankie sê.
"Dankie dat u steeds glo dat Icosa die party is wat verandering kan bring," sê die party se provinsiale voorsitter, Dawid Kamfer in 'n persverklaring.
Hy sê hoewel die party nie so goed soos in die vorige verkiesings gevaar het nie, bly Icosa steeds gefokus op die 2021 plaaslike verkiesing. Icosa glo dat hulle weer 'n impak kan maak, soos in die vorige plaaslike verkiesings.
"Enige verkiesing bly 'n uitdaging, daarom is dit belangrik om gefokus te bly ongeag die uitdagings soos finansies, en die mediadekking wat ander partye geniet.
"Icosa glo dat plaaslike verkiesings ander uitdagings bied, en dat kiesers kyk wie werklik op grondvlak vir hulle iets sal beteken. Daarom is Icosa hoopvol en vol vertroue dat kiesers sal raaksien, en dat die getalle wat nou vermag is, regoor die land sal verbeter."
Verkiesingsuitslae in Kannaland, waar mnr Jeffrey Donson, Icosa se president woon en wat die afgelope verkiesing weer deurgeloop het onder die kritici, het steeds bewys dat hy die mense se voorkeurkeuse is. Kannaland se uitslae het weer gewys dat die mense daar 'n einde wil bring aan swaarkry en vertrou Icosa dat op ander plekke hierdie voorbeeld gevolg sal word.
Die leierskap wil eestens vir God dankie sê vir 'n verkiesing waar geen geweld voorgekom het nie, en wat ons deur die hele verkiesing gedra het. Die president, mnr Donson, leiers, lede, media en elkeen wat in die verkiesing 'n bydrae gelewer het, hartlik bedank.
"Ons moet nie nou moed opgee nie, kom ons staan saam om 'n verskil te maak, saam kan ons net sterker raak." sê Kamfer.
"Aan die ANC, DA en al die ander partye, veels geluk en voorspoed vir die vyf jaar wat voorlê.
Icosa glo dat diegene wat hulle stemme vir hierdie party uitgebring het, dit sal respekteer en nie weer ons land of dorpe sal afbrand nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'