GEORGE NUUS - Die nuutste kultivars van groentesaad wat tans deur Klein Karoo Saadprodusente in proefaanplantings getoets word, is verlede week op Applegrove, Leon van Rooyen se plaas net buite George, bekend gestel.
Dit is die eerste jaar dat Klein Karoo Saad sulke proefnemings in die George-omgewing onderneem om vas te stel watter variëteite die mees geskikte vir die Suid-Kaapse klimaat is en boere van so ver as Gouritsmond, die Langkloof, Langberg en Piketberg was daar. Die bekendstelling het hoofsaaklik oesgereed brassicas en brokkoli vertoon.
Boere is die geleentheid gegee om variëteite te identifiseer wat die beste vertoon. Volgens Koot Jacobs, gewasspesialis van Klein Karoo Saad, kom al die kultivars van saadkwekers in Europa en die VSA. Saad wat suksesvol vaar in die proefnemings en genoegsame belangstelling onder boere wek, sal op groter skaal getoets en dan aangekoop word.
"Ons eerste proeflopie was baie suksesvol. Verbeterde variëteite brokkoli het meer bemarkbare koppe van swaarder gewig en kan vroeër geplant word, sodat meer plantings
in 'n seisoen gedoen kan word. 'n Mens wil ook meer eenvormigheid hê onder plante sodat hulle gelyk bekwaam (gereed vir oes) raak. Dit verlaag arbeidskoste omdat als op een slag geoes kan word. Op die oomblik toets ons wintergewasse, maar ons beoog om in die somer 'n hele reeks somergewasse soos tamaties, vlapampoentjies en murgpampoentjies te plant."
Verkillende nuwe soorte blaarslaai, wortels en beet is ook al in die grond op Applegrove, maar is nog nie gereed nie.
Klein Karoo Saad het ook proefpersele in die Oudtshoorn-omgewing, waar hulle Suid-Kaapse hoofkantoor geleë is, en in Bapsfontein in Gauteng. Op Delphina, hul proefplaas in Oudtshoorn se omgewing, word uie en rankgewasse soos waatlemoen, pampoen en boontjies getoets.
Volgens Anina Meyer, wat produkontwikkeling en verkope in die Suid-Kaap behartig, word geen geneties gemodifiseerde groentesaad aangehou nie.
Onder Klein Karoo Saad se kliënte tel Fresh Mark van Dawie Barnard, Tikketai van Stephan Gericke wat landswyd groente aan Woolworths verskaf, Peter Leppan van Lancewood, en saadmaatskappye soos Bejo en Syngenta. Gericke was by die bekendstelling en het benadruk dat kwaliteit saad vir hulle belangrik is omdat Tikketai aan hoë standaarde moet voldoen. Hy was beïndruk met die nuwe proefnemings.
Jan Meyer, Klein Karoo Saad se bestuurder, het gesê dat proefaanplantings uitgebrei sal word om later ook weiding in te sluit. Kwartaallikse bekendstellings sal vir boere gehou word.
Klein Karoo Saad verkoop Syngenta se volledige reeks groentesaad wat die Syngenta- en Zeraim-variëteite insluit.
Cavert Barkhuizen (links) van Aorta Boerdery naby Noll bespreek van die kultivars met Ju-Ran Jonck Klein Karoo Saad. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'